Eerste reens
Eerste reëns
Dowwe diep dreuning laat oortjies spits
neusies opgelig word die lug gesnuif-snuif
sterte word gekrul en opgewonde gewuif
ver in die verte blink die eerste blits
grou grys gordyn sak uit die wolke neer
druppels plof-plof in die rooibruin stof
dan is dit asof die hemel self ontplof
as bliksems deur die donker skeur
stofgetrapte voetpaadjies word lewenstrome
by dor krokodilvelgebakte watergate
dans wildsbokke vrolik uitgelate
as die eerste reëns seën oor hulle stroom.
©Stephan Uys 2018/07/16
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.