
Elegie aan ʼn versteende hart
In die sediment-lae
van ʼn versteende hart
het ʼn liefdessaad ontkiem,
in mikro-porië wortel geskiet
en hartswense bo rede gesien
Immergroendrome laat blom
asof die apokalips môre gebeur –
die wolke met silwer randjies vergul
en elke nuwe dag
met hoopsglimmers verkleur…
en mettertyd in versinsels
se pseudo-lig weggekwyn
jou liefdesson se laaste asem
het oornag geluidloos verdwyn
Alleen op haar knieë
het ʼn marmerhart
na Mara se bitter poele gekeer,
met vrae sonder antwoorde
wat wenend vra “hoekom,
maak die liefde so ongenaakbaar seer?
©Loretta Szikra
20171217/Pendoring 8/Elegie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek