encore (Goud)
net toe ek dink
dat ek elke moontlike
hartsmooi herfs-oomblik
wat ooit tot my gespreek het
verewig het tussen versreël
en stroof
kom tokkel daar vanuit die
kortstondige oorgangsglorie
koel herfsvinger-gedagtes aan
my hart-en sielsnare
sodat ek tot my oeuvre móét voeg:
tyd is onsentimenteel
en glo nie in wag nie
daarvoor is die lewe té lank
om dus te drentel
van herfsboom na herfsboom
om ‘n laaste paar ritselboodskappe
te (probeer) ontsyfer sou futiel wees
(die sabbat-seisoen draai reeds leep-oog rond)
© Elmarie Nienaber Van Kampen, 2025
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek