Epikuris: Die kuns van plesier en balans.
Epikuris: Die kuns van plesier en balans.
Is dit verkeerd om plesier bo alles te waardeer? In ’n wêreld waar prestasie en produktiwiteit dikwels as die hoogste doel beskou word, is dit ’n vraag wat my gereeld laat nadink. Ek onthou ’n eenvoudige, maar betekenisvolle oomblik – ’n ete waar elke happie soos ’n stukkie hemel geproe het. Tydens daardie ete het ek sit en wonder oor die waarde van ’n epikuristiese lewensbenadering: Wat as ons plesier bewustelik op die voorgrond van ons bestaan plaas? Is daar ruimte vir so ’n idee in ’n samelewing wat so gefokus is op die noodsaaklikheid van harde werk?
Plesier hoef nie oppervlakkig te wees nie. Dit kan ’n diepgaande bron van waarde wees, veral as dit deel vorm van ’n gebalanseerde lewe. Ná dae of weke van harde werk is daar min dinge so bevredigend soos om tyd saam met geliefdes te spandeer, ’n heerlike ete te geniet of om bloot in die natuur te ontspan. Hierdie klein oomblikke van vreugde herlaai ons energie en herinner ons hoekom ons leef. Tydens ons onlangse vakansie in die Kaap het ek hierdie balans eerstehands ervaar. Van slee-ritte by Cool Runnings en ’n avontuur op die kabelkar by Tafelberg, tot ’n week van ontspanning by Club Mykonos in Langebaan. Elke aktiwiteit het iets besonders na vore gebring. Dit was nie net tyd vir rus nie, maar ’n herinnering dat plesier betekenis gee aan die oomblikke wat ons andersins dalk sou mis. Selfs die disse wat ons by verskeie restaurante geniet het, het soos ’n viering van die lewe gevoel. Met elke happie het ek besef: Dit is nie verkeerd om plesier te koester nie – solank dit nie jou lewe oorheers nie.
Dit is hier waar balans ter sprake kom. Te veel fokus op plesier kan ook gevaarlik wees. Dit is maklik om in ’n oppervlakkige lewenstyl vas te val as plesier vir jou die enigste dryfveer word. Wanneer onmiddellike genot al jou verantwoordelikhede oorskadu, verloor dit betekenis. Mense wat voortdurend op soek is na oomblikke van genot, ervaar dikwels ’n leemte – ’n vorm van leegheid wat ontstaan wanneer diep vervulling in hul lewe ontbreek. Ook gedurende ons vakansie was daar ook oomblikke van besinning. Een van die kosbaarste ervarings was toe ek vroegoggend langs die see na die sonsopkoms gekyk het. Daar, in die stilte van die vroeë ure, het ek besef hoe belangrik balans in ons lewens is. Plesier is noodsaaklik, maar net soos water, kan dit versmoor as dit nie met matigheid geniet word nie. Dit is hierdie kuns van genoegsaamheid wat ware vreugde moontlik maak: om te weet wanneer om plesier te omarm en wanneer om dit opsy te sit.
Ons leef in ’n samelewing waar produktiwiteit as die maatstaf van sukses dien. Hoe meer jy bereik, hoe meer waardevol lyk jou lewe. In so ’n wêreld is dit maklik om skuldig te voel oor plesier, asof rus en ontspanning iets is wat jy moet “verdien.” Hierdie druk om voortdurend produktief te wees, kan egter geestelike en emosionele uitputting veroorsaak. Ons vergeet dat plesier nie net ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir ons algehele welstand. Ek het lank gesukkel om hierdie skuldgevoelens af te skud. Ek het egter geleer dat om plesier doelbewus te koester, nie luiheid is nie – dit is eerder selfversorging.
Om ’n moderne epikuris wees, beteken nie dat jy in oorvloedige weelde leef nie. Dit beteken om klein oomblikke van vreugde raak te sien: ’n vars koppie koffie, ’n glimlag van ’n vreemdeling of ’n middag onder ’n boom. Hierdie oomblikke van blydskap gee ons die krag om die uitdagings van die lewe met ’n vars gemoed aan te pak.
Epikurus het geglo dat blydskap en sin met mekaar verweef is. Vandag is dit maklik om te dink dat vreugde en betekenis los van mekaar staan – asof jy óf werk kan doen wat betekenisvol is, óf kan geniet, maar nie albei gelyktydig nie. My vakansie het my net weer anders laat dink; die oomblikke van plesier wat ek ervaar het, was nie net tydelike ontvlugtinge nie; dit was ’n herinnering aan wat belangrik is in die lewe. Elke ete, aktiwiteit en geselskap was soos ’n klein viering van ons bestaan.
Uiteindelik gaan dit oor balans. Plesier het sy plek en dit is nie minderwaardig as prestasie nie. Die geheim lê daarin om te weet wanneer om dit te omarm en wanneer om ruimte te skep vir ander verantwoordelikhede. Tydens my vakansie het ek nie net gerus nie, maar ook weer geleer dat die lewe nie net oor werk en doelwitte gaan nie. Dit gaan ook oor die oomblikke tussenin, dié wat ons harte vul en ons herinner waarom ons leef. Om plesier bo alles te waardeer, is nie verkeerd nie, solank jy balans handhaaf. Die beste lewe is een wat spreek van ewewig – met genoeg ruimte vir plesier én betekenis. En soms, net soms, is dit goed om jouself te bederf met ’n bietjie roomys wat ons herinner aan die eenvoudige vreugde van die lewe.
©Marlene Erasmus
30/10/2024
(839 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek