FLENTERJAS
FLENTERJAS
soos ek versliert deur reën voortbeur
veilig in my verflenterde jas
‘n jas geletsel, geblerts met kleur
gedagtes soos knope wat soms nie pas
my jas wat skaars my trane weg steek
plek-plek lap-lap en bont gestop
‘n storie wat van vele myle spreek
blink gestryk en bleik geskrop
maar as die wind die jaspant lig
‘n bloedrooi flits sag soos fluweel
gevoering met Sy liefde teen my rug
en oorgenoeg om uit te deel
en sou ek jou stoksiel alleen kry in die kou
jou moeë lyf, so styf teen myne vas sal hou
© Barbara Smit – 30/01/2018
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.