Gebroke, verslae hart
Die seer is in my hart ingekerf
soos met ‘n biltongmes
wat lanklaas die slypsteen gevoel het.
Elke lyntjie dieper as die vorige een
terwyl my trane soos haelkorrels neer stort
waarvan niemand weet nie
want hulle oë is blind
vasgenael teen die masker
waarmee ek die wêreld wil flous.
My kopkussing is al deurweek
van die middernagtelike geween
terwyl ek môre-oggend
vir elkeen ‘n geseënde dag toewens.
Wanneer ek ‘n woord uiter
oor wat in my siel aangaan
is dit asof ek elke keer moet aanhoor
bou ‘n brug en kom daar oor
maar my arms is te swak
en die baksteen te swaar
om soos ‘n volwaardige bouer
steen vir steen vas te sement
Ek is moeg om te baklei
moeg om elke oggend
die loodswaar beddegoed
weg te stoei en been vir been
my voete op die vloer te plant
en myself regop te dwing
om ‘n dag te begin.
Ek bid elke dag verby
want dan kan ek my oë sluit
en hoop
dat ek sal wakker word
met ‘n lied in my hart.
dalk eendag, sal die benoudheid
die vrees, die hartseer, die pyn
en plekmaak vir ‘n mooi oop sonskyn dag
maar vir vandag
smile en wave ek maar weer
met ‘n hart diep diep seer.
2 Kommentare
-

Elizabeth
Ek hoor jou, puik beskrywend.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2022 – OOP projek