Gee, gee, gee.
Vergun my asseblief . . . verskoon my asseblief . . . laat my asseblief toe . . . om ’n ongeskikte wilde wind, hardop en oopmond, op te breek . . . bbluaaaarghh! Jammer en dankie.
Hierdie wilde wind het in my ingewande opgebou, omdat mense, blykbaar reken ek het eindelose fondse in my bliktrommeltjie, onder my bed. En dat daai trommeltjie en die weduwee se kruik sinoniem is.
In die laaste week alleenlik, ontvang ek hierdie versoeke:
‘My seun is ’n student en ek kan nie meer die betaling van sy klasgeld en verblyf en vervoer byhou nie. As die sewe honderd kontakte op my WhatsApp, net tweehonderd rand via die ‘Back a Buddy’ stelsel bydra, sal al sy kostes gedek wees.’
‘My seun het die rugbyspan gehaal en hulle gaan op toer Gauteng toe. As elkeen net x-bedrag bydra, sal die toergeld gedek wees.’
‘Beveg kanker. Ons hou konsert, want Piet en sy seun Pieter en vriendin Sara, is al drie met kanker gediagnoseer. Om hulle te help met mediese onkoste, koop asseblief soveel as moontlik kaartjies teen een honderd en tagtig rand elk. Of maak ’n donasie.’
‘Ek is Pietie Pieterse. Ek het die Boland Rolskaatsspan gehaal. Ons gaan nou na die SA kampioenskap. Sal tannie asseblief geld bydra?’
Nou vra ek so ordentlik as wat my moerigheid my toelaat: ‘Waar was jy toe ek my kinders se studiegeld self betaal het? En waar was jy toe ons in die sweet van ons aangesigte, mediese fonds bydraes gemaak het. En waar was ek toe julle elke tweede naweek rond kerjakker het? Nee wag, ek antwoord self. Ek het geld verdien en gespaar om my kinders op toere en kampioenskappe te stuur!’
Verdomp, lyk ek soos ’n spaarvarkie sonder ’n slot?
3 Kommentare
-
Amanda
Net so. Dan kyk hulle jou met sulke skaapogies aan as jy nie op die borgvorm wil of kan teken nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2019 projek