Gee my net kans
Gee my net kans
Moenie my sê God is goed
as ek huil-loop agter ʼn begrafnisstoet.
Moenie my sê God is goed
as ek my geliefdes die laaste maal groet.
Los jou verstand en leen my jou hart
geen woorde bring troos in tye van smart.
Verstáán jy my pyn raak soms … net te veel?
En is jy bereid om dit met my te deel?
Ek weet jy’s besorgd oor my siel en my gees,
maar geen mens kan die seer diep in my genees.
Ek besef met my verstand mag ek dalk nie verstaan,
maar my geloof in God sal (selfs as ek wankel) bly staan.
Onthou my verstand is verslae en my gees is verniel,
gee my net kans dat ek weer leer hoor met my siel.
Soos ʼn duisend-stuk legkaart, so stukkend is my hart
dit voel vir my ek verdrink in bodemlose smart.
Tog hoor ek die stem van ʼn vervreemde Vader
en teensinnig begin ek voetjie-vir-voetjie Hom nader.
Soos die son opkom na die donkerste nag
weet ek êrens in die toekoms wink ʼn nuwe dag.
© Stephan Uys 2019/02/02
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.