Gemaskerde skimme
Soms kan ek my so verkyk aan mense en dan wonder ek of hulle, hulself al in ‘n spieël gesien het… mense dra soveel maskers dis partymaal nogal skrikkerig!
Party kan nie vinnig genoeg die masker van “daai nagemaakte vriendelikheid” opplak nie. Jy weet mos, hulle raak so vriendelik, dit drup soos stroop van hulle af maar dis hulle oë wat hulle weggee. Dis koud en kil. Mens raak skoon ongemaklik in hulle geselskap en probeer maar min sê.
Dan kry jy die “Trolle.” Hulle maskers val sommer gou af. Wees maar net ‘n rukkie in hul geselskap en hul wys jou gou hulle ware kleure. Hulle sal jou letterlik beroof van jou hele menswees, jou uitmekaar skeur soos ‘n roofdier sy prooi sal verskeur. Hulle is ook gewoonlik daai tipe waar jy alles moet doen en werk, net omdat “gemaklikheid” op hulle voorkoppe geskryf staan maar nogsteeds sal hulle jou verkleineer en jou siel uitruk, jou laat voel jy is ‘n niemand.
Dan kry jy daai “Ag kry my jammer” masker. Daardie tipe mens wat jou skoon uitput om net na hulle te kyk. Hulle sal letterlik als doen vir ‘n bietjie aandag en sal jou liggaamlik en geestelik besoedel met hul negatiwiteit tot jyself magteloos voel en jouself dan begin bejammer!
Dan is daar die “Regte EK, die positiewe ek” masker. Die nederige jy wat regtig omgee, wat luister en uitreik om ander te help, sonder dat jy voel dis ‘n werk. Dis iets wat uit jou hart uit borrel, jou liefde vir God en jou mede mens en jou glimlag skitter want dit kom uit jou hart uit.
So gaan sit bietjie vandag en dink en vra jouself af… watter masker dra jy? Of trek jy ook ‘n “Trol” op jouself en stroop mense van hul menswees of is jou masker een van omgee en liefde of dra jy die masker waar jy so desperaat is vir aandag?
Gaan staan bietjie voor ‘n spieël en kyk vir jouself, wie weet jy leer ken jouself dalk net daar!
©Madzi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.