Jongste aktiwiteit:

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Ricco het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Jessica Venter het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van CHRISTELLECHRISTELLE is nou vriende

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

Gevolge van wag (Epiese gedig –Elegie)

Baie dinge in die lewe kan wag
tot môre of oormôre
maar tyd kannie wag nie
tyd se naam is ‘Nóú!’
en ‘Wag’ beteken
om altyd op tyd te wees

die verskil tussen ’n sekonde
en
’n breukdeel van ’n sekonde
kan noodlottige gevolge inhou …

die maan katedraal grootoog sy baan
deur die bome se krone
verlig die verhoog van vrede
in die arena van ons tydelike basis
die melkweg skuim haar vingers
aswit uit bokant die suiderkruis

my verkyker luiperdkruip
deur die lang gras om ons tydelike basis
sterre spring-huppel tonteldoos sterrestof
ruiter-karos die fluweel van die nag
naggeluide simfonie hemelse melodieë
dankgebede wierook vanuit ons harte
uiteindelik is die lang wag bykans verby
na maande se uitmergelende bosoorlog
met eerstelig op die sekonde
(So is daar vir my gesê)
sal die helikopter ons oppik

met eerstelig kwas die son skarlaken-rooi
oor die skouer van die nag,
en doekvoet kaleidoskopies ’n nuwe dag
die oggendbriesie spoel soel en koel
deur die grashalms van my gedagtes

op die sekonde sein ek ons ruitverwysing
na waar die helikopter op die horison blink
dan wag ek ongeduldig

‘Hoekom kom hy dan nie nader nie?’
sekondes vries
(Wie het gesê tyd kannie stilstaan nie?)

die hel het skielik in al sy nate losgebars
en die stomheid van ons tydelike basis
in ’n tonka van vuur en swael omskep

gisteraand se dankgebede trurat
al ons verwagtinge
ons is oorval deur ’n oormag van die vyand

infrarooi strale skeur die laaste tooisels
van die nag se karos in flarde
ligfakkels kortsluit die laaste sterre van die nag
rookgranate
bloedloop die glimlag van die maan
rustigheid verdwyn deur die agterdeur van pyn
vrede spat uitmekaar
stemme skree-vloek
Mirages sopraan die lug
mortierbomme rasper vlees en bloed
morsekode spookloop die lug
lugvakkels mortier my emosies

my oë spieëlteleskoop* tonele van grusaamheid
en tonele van smart
rookwolke gordyn my pyn
my lewe speel voor my af
ek is verdwaas

lugfakkels karteer in my oë
dan kom ek tot verhaal
en trurat met vuur en beweging
in die rigting van die helikopter
wat sowat vyfhonderd meter
van die grusame toneel geland het

soos wat die manne aan boord spring
styg die helikopter al hoër en hoër
‘Is almal aan boord,’ vra ek beangs

’n hand lei my oë in die vyand se rigting
dis Proppie**, my buddy
swaar gewond kom hy aangestrompel
ek het die loods beveel om te wag
hy wou nie en het tot boomtop opgestyg
‘Jou fokken banggat!’, het ek hom toegesnou

ek wou uitspring om vir Proppie te gaan help
saam met hom veg tot die bitter einde toe
saam met hom op die dood wag
maar die manne het my vasgedruk
op die vloer van die helikopter

Proppie het agterna gehardloop
met die vyand kort op sy hakke
terwyl die koeëls aanhoudend om hom gereën het
‘Mossie skiet my asseblief, moet my nie agter laat,
onthou ons belofte aan mekaar’

sy hulpkrete breindood my oordeel
ek kon hom nie skiet nie en het my probeer losruk
om uit die helikopter te spring
en saam met Proppie te veg tot die dood ons insluk
maar is verhoed deur die stewige greep
van die manne aan boord

ek het vir Proppie geskree:
‘ek sal vir jou gaan soek
wag vir my by een van ons geheime plekke’
die helikopter het bo die bomemat
koers gekry basis toe

ek het agterna na Proppie gaan soek
vir hom gewag
by al ons geheime ontvlugtingsplekkies
waar ons altyd afgespreek het
om mekaar weer te ontmoet
wanneer ons genoodsaak was
om tydens een van ons geheime operasies ‘op te split’

telkens was my gewag tevergeefs
Proppie was die slagoffer
van daardie dag
toe die helikopter vyf minute laat was
om ons op te pik

baie dinge in die lewe kan wag
tot môre of oormôre
maar tyd kannie wag nie
tyd se naam is ‘Nóú!’

en om te ‘Wag’
beteken om altyd
stiptelik te wees
——-ooo000ooo——-
(**terwille van sy familie noem ek nie sy regte naam nie)
© Pieter Mostert

*spieëlteleskoop = neologisme. [VERDUIDELIKING: In ‘n spieël sien jy altyd die harde werklikheid en deur ’n teleskoop sien jy alles in oorgrote mate en die detail van naby.]

Desember 2023 – Veldslag projek
STERGRADERING: SILWER




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak