Glapte pad
‘n pad
wat my
vêr terugvat
op ‘n grasgroen
kindwees huppel pad
die onskuld droompad van ‘n kind
wat geglo het as jy soek sal jy alles vind
klippiespad van grootword
en baie vrae vra
skerp klippies
wat voete steek
as jy nie skoene dra
die ligpad van verlief wees
van weet jy’s nie alleen
die liefdespad van trou sweer
en twee mense word een
die drafpad van die lewe
die sukkel om by te hou
die ligstrale wat deurbreek
as jy weet hy is langs jou
die omgeepad
van handevat
van mekaar
te help
te dra
en dan
wanneer
jul liefde blom
te weet jy word ‘n ma
jy soos ‘n roosknop oopvou
met die toekoms binne jou
in die swartste smart
van my stukkende hart
ek my skat moes begrawe
kon ons hande vat
saam kon ons
deur
die
doodsvalei
gaan
groot
hoogtes
klim
kon ek
stukkies son
wat deur dowwe blare glim
op my skouers voel bak
kon ek weer dankbaar opkyk
deur my blaredak
en so stap elkeen
tot
die einde
sy
eie
gelapte
pad in ‘n tafereel
van groen en swart saamgevat
terwyl die liggroen van kindwees
en ma verdwyn
die son nie meer vir my so helder skyn
want deur die oë van ‘n oumens is die lig te skerp
is die opdraandes te moeilik en die koue te snerp
lyk een boom soos die ander
die skadu’s maak my bang
is ek wat altyd vry wil wees
in ‘n oumens-lyf gevang
soos die
springkaan
van
ouds
sleep
ek myself
met moeite voort
word weggevat
van my lappiespad
na paaie
waar
niemand hoort
8 Kommentare
-
-

Francois Meyer
Ek VOEL jou woorde, Evanthe!
-

Anze
Dis sielsmooi!!!
-

Viooltjie
Pragtig, Evanthe :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Pendoring beoordelaar 2
Dankie vir die mooi kykie na jou menswees.