Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: GRYP DIE OOMBLIK

Deur Annamarie du Toit
Datum gepubliseer: 20 April 2016 Aantal woorde: 223 1197 Kere gelees 16

GRYP DIE OOMBLIK!

‘n Klompie jare gelede was Koos en ek vir ‘n paar maande in Zambië gestasioneer. Ons selfone was nie internasionaal gekoppel nie. Ons was afhanklik van Pieter en Elsie se huisfoon vir oproepe na Suid-Afrika. En was dit duur! – sestig rand vir drie minute se kosbare gesels met ons geliefdes.

Pappie was oud en alleen, maar nog vol lewe en werk. Hardus en Ellare en so ook Corneel en Ronel, was pas getroud. Francois se universiteitssangroep het hul eerste CD vrygestel. Broers en susters het hulle gange gegaan.

Waarom het ons in daardie tyd so verskriklik na ons mense verlang? Miskien juis omdat kommunikasie so duur was?

Ons bel vir Hardus-hulle. Hulle speel binnenshuise krieket. Teleurstelling. Pa en Ma het in die sak gepraat, het ons later gehoor. Die selfoon was in hulle sportsak, terwyl hulle besig was met hul sport. Met Corneel en Ronel kan ons ‘n geselsie inkry. Francois is ook beskikbaar.

Ek bel vir Paps. Hy gesels land en sand. En skielik:

Haai, ou kindjie, dit kos seker baie om so te praat?

Ek sluk swaar aan die sestig rand in my agterkop.

Ja, Pappie, dit is maar duur.

Dan moet ons nou maar afsluit.

Dis reg so, Pappie. En ons groet.

Twee weke later is hy oorlede. Sonder ‘n verdere groet.
GRYP DIE OOMBLIK!

 




TEMAS
7 Kommentaar
  1. Anze

    20 April 2016

    Baie dankie dat jy hierdie gedeel het vir ons Carpe diem projek.. ja tyd is so kosbaar en ons moet elke oomblik aangryp om ons geliefdes geliefd te laat voel…

  2. Kiekies

    20 April 2016

    ‘n Oproep was duur! Geen oproep, onbetaalbaar!

  3. Arnold

    20 April 2016

    So het dit met my ook gegaan, gedink alles is reg en die volgende oomblik… nie meer.

  4. Toom

    21 April 2016

    Wie het gesê, ,Leef elke dag asof dit jou laaste is’? — met die bedoeling, Maak vrede met jou vyande, en stig nie kwaad by vriende en verwante nie; dit kan ewe skielik te laat wees.
    Dankie.
    GvT

  5. Elizabeth Greef

    21 April 2016

    Sjoe, ja, as ons maar net kon weet wanneer word die laaste asem uitgeblaas.
    Dood is altyd onverwags en het meeste van ons nie die tyd gegryp nie.
    Pragtige werk.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 48
Kommentaar telling: 63

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 160 gaste aanlyn

Bydraes – Argief