Hemelse DNA
seer herinneringe sidder deur my siel
met die geklingel van jou brandewynglas
wat my kop net-net mis
jou woede vuishou
in reënbuie oor my ma neer
jou mislukte selfmoordpogings
verwond my dogtertjiehart
wasem jou drankasem sy walms
oor jou leë beloftes
besef ek keer op keer, jou liefde maak seer
terwyl depressie my troos
word pyn my normaal
as ek in die spieël kyk
dra ek steeds die onsigbare letsels
is ek ooit goed genoeg?
uit my pyn groei Goddelike genade
en bloei my siel silwerskoon
my Hemelse DNA vloei sterker
vandag wil ek dankie sê
want jy’t my gewys wat ek nie wil wees
©Jessica Venter
26/9/2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.