het ek geweet
het ek geweet
witkopkind sit op my skoot
trek my hare, skater en
krap in my tas, irritasie
het ek geweet dat jy sou vries op
ses-en-twintig in ewige jonkheid?
ek het nie gedink nie, nie geweet nie
ek dink nou en weet, genadeloos
ek hoop, maar ek word nie wakker nie
en niemand bel en sê dit was ‘n fout nie
ons stap langs die meer, ingehak
verby eende en kaalopvrugtebome
jou sigaret soos die punt van jou vinger
ons woorde stoom verby mekaar
in warm, idilliese monotone
daar’s net mooi om ons waar
die berge blou lê
het ek geweet het ek jou daar gehou
kon jy jou kop neerlê in ’n sagte veld
sonder seer
hulle sê jy lyk vreedsaam in
jou vreemde wêreld,
al moes jy vlug voor gloeiende pyle
wie’t jou kom haal?
jou ma? my pa? ons ouma?
vertel jy die nuus van die aarde?
hier sit ons met die pyn
en die tyd wat leer
en jy glim in liedjies en lekker kos
en jy klim in gister se stories en
laggende staaltjies
steek ons ’n kers aan
en blaas die vlam tot waar dit
raak aan jou nuwe drempel
steek ons ’n kers aan en sien
die goudgerf van die lig
die verbysterende lig
wat jou gul ontvang het
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek