Hoe leef jy Afrikaans?
Hoe leef jy Afrikaans?
Die taal is so deel van almal wat Afrikaans praat. ’n Taal wat strek van die Karoo waar droë bossies staan tot daar in die hartjie van die spreekwoordelike pot goud in Gauteng. Soos enige ander taal het Afrikaans sy eie kwinkslae gereed om jou te vermaak. Dit is ’n taal wat jou kan laat huil of lag, soos ‘n ou kar wat steeds ry, al is dit met ‘n groot geraas.
’n Kleurvolle taal
Jy kan jou lippe behoorlik aflek want ons het baie idiome en spreekwoorde. Ek dink aan: “Ek het ’n voëltjie hoor fluit” as jy iewers iets interessants gehoor het. Afrikaans skitter beslis soos “die oggendstond het goud in die mond.” Ek wil my verstout om te sê dat ons taal amper “so oud soos die berge is”, want ons taal se oorsprong gaan ver terug in die verlede.
Afrikaans is ons kinders se erfenis
Elke volk se taal en geskiedenis is belangrik vir hulle voortbestaan. Ons moet hierdie geskiedenis vir ons kinders se nageslagte bewaar. Ek beskou dit as ’n ernstige saak. Die gebeure waartydens generaal Koos de la Rey vir generaal Jan Smuts met ’n sambok geslaan het na die Slag van Nooitgedacht is ’n aanduiding van die erns waarmee De la Rey sy pligte uitgevoer het. As nageslag van die Geloftevolk leef ek Afrikaans uit, want so sal ek sorg dat ons geskiedenis onthou sal word.
Helde in Afrikaans
Wie onthou nie die kinderhelde, Racheltjie de Beer en Wolraad Woltemade nie. Hulle het met groot moed en baie dapperheid hul merk gemaak. Dit is die verhale waarmee ons kinders grootgeword het. Deesdae word daar Afrikaanse Privaatskole, Universiteite en Technikons gestig om seker te maak dat onderrig in Afrikaans kan geskied. Ons kan alles in Afrikaans doen.
My geloof
Die belangrikste hoop wat ons kan hê, is ons geloof. Geloof en die Afrikaner gaan in baie gevalle hand-aan-hand in Afrikaans. Dink maar net aan 16 Desember 1938 toe Andries Pretorius ’n gelofte afgelê het. Die Gelofte is voorgelees as onderneming dat hulle ’n kerk sou oprig en jaarliks die oorwinning tot God se eer sou vier. Ek lees en bid daagliks in Afrikaans.
Afrikaanse tradisies
Ek dink aan Afrikaanse volkspele. ’n Tradisie eie aan Voortrekkers. Die mans en vrouens trek kleurvolle kostuums aan wat versier word met borduurwerk en spierwit kragies. Eenvoudige dansbewegings word uitgevoer in kleiner groepies. Volkspele is nie net ’n aktiwiteit vir oefening nie, maar skep ’n gevoel van samehorigheid. Die aktiwiteit dien as ’n medium om die Afrikaanse taal en kultuur te beskerm en te bewaar vir die nageslagte.
Afrikaanse kos
Ons disse waaraan ons so kan smul sluit kosse in soos pap en vleis, potjiekos, braaivleis en biltong en droëwors. Afrikaners hou van partytjies en dan maak hulle so – melktert en jêmtertjies vir nagereg.
So deur al die smullekker kos, geskiedenis en kinderhelde leef ek in Afrikaans. Trots op my pragtige taal: Afrikaans.
©MarleneErasmus
22/05/2024
(487 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Mei 2024 - OOP projek