Die doodste dood
Die doodste dood, deur Stephan Uys
Al my kennis en ervaring rondom die dood van ʼn kind is alleenlik gegrond op gesprekke met ouers wat hierdie hartseer hel deurleef het. Ek trap dus versigtig, want ek is bang ek trap stukkende harte nog meer stukkend.
Taalkundiges leer ‘dood’ het nie trappe van vergelyking nie. Volgens hulle bestaan iets soos ‘dood, dooier, doodste’ nie; dood is eenvoudig net… dood. Na al my gesprekke en meelewing met ouers se pyn en vrae, kan ek doodeenvoudig nie hiermee saamstem nie. Om ʼn kind aan die dood af te staan, is die doodste dood wat enige mens kan beleef. Hierdie ouers bevind hulle in ʼn diep donker tonnel vol pyn, hartseer en totale gebrokenheid. Geen ma of pa is ooit gereed om hulle kind te begrawe nie, selfs nie hulle wat vooraf deur dokters gewaarsku was dat hulle kind kan sterf nie. Solank daar lewe is, is daar tog nog hoop. Hoe dikwels het ek nie gesien hoe sterf ouers se hoop saam met hul kind nie.
As ʼn pa van drie kinders kan ek nie help om te dink dat ʼn kind se dood een van die mees onregverdigste dinge is wat met enige mens kan gebeur nie. My ‘mens-kop’ kan verstaan dat almal eendag gaan sterf. My ‘teologie-kop’ weet van sonde en gebrokenheid, en dat pyn en dood in die wêreld ingekom het as gevolg van die sondeval. My ‘mens-hart’ weier egter botweg om te glo dat dit ooit regverdig kan wees teenoor enige ouer om sy kind te laat sterf. Net soos met molestering en mishandeling glo ek nie enige mens kan ooit ‘verdien’ om deur sulke dinge te gaan nie.
Mense vra moeilike vrae as kinders sterf: “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” of “Straf God my?” Nog vrae wat ek gereeld hoor is: “Waar was God?” en “Hoekom het Hy dit laat gebeur?” en “Hoe kon ʼn God van liefde dit toelaat?” Ek onthou so goed die gebroke Duitse ateïs wat my gevra het: “Hoe kan jou God my seun steel?” Dit is die tipe vrae wat ons almal mee worstel, of ons nou diep gelowig is of nie. Soms vra ons die vrae hardop, ander kere word dit in die hart bepeins. Ons soek antwoorde op vrae wat geen mens werklik ʼn antwoord op het nie, en ek glo die antwoorde is net so divers soos die mense wat dit vra. Geen antwoord kan werklike berusting gee nie. Inteendeel, my ervaring is dat dit eerder kan seer maak en woede veroorsaak. Onthou woede is deel van die rouproses, en soveel keer word dit ontketen deur goedbedoelde woorde.
Ek het geleer om my slim antwoorde te los en eerder te doen wat Jesus gedoen het. Jesus het gehuil by Lasarus se graf. Hy beveel ons nie om hartseer mense met advies te bedien nie, Sy opdrag is: “Huil saam met die wat huil, en lag saam met die wat lag.” Ek kan getuig dat my trane ten minste vir my help om die hartseer te hanteer. Ek weet ook geen ouer was vir my kwaad as ek ook begin huil nie.
Ek het al met heelwat ouers gedeel wat hulle kinders op verskillende ouderdomme en op verskillende maniere aan die dood afgestaan het. Buiten vir hulle rou pyn, het hulle gewoonlik vreeslike selfverwyt. Soms kan mens sê dis dalk grondig, maar meestal is dit totaal ongegrond. Ek ken heelwat ouers wie se kinders verdrink het. Daar was ʼn oomblik van sorgeloosheid, ʼn oomblik van vergeet en ontspan, en toe kom ʼn ewigheid van pyn en verwyte. Glo my, daar is altyd verwyte. Meestal selfverwyt, maar jy kry ongelukkig ook die huweliksmaat, familielid en ook totale buitestaanders wat dit hulle plig ag om vrylik blaam uit te deel. Ek onthou die tienjarige seuntjie wat op pad huis toe van sy pa se bakkie afgeval het. Hy was ʼn paar dae in ʼn koma voor hy gesterf het. Ons het ure saam gebid en gesmeek vir genesing, maar God het anders besluit. Praat van selfverwyt. Ek het kontak verloor met die ouers, maar ek weet nie of daardie pa ooit homself vergewe het nie.
Dit laat die vraag: “Kan ouers ooit oor die hartseer en pyn van ʼn kind se dood kom?” Ek twyfel of enigiemand werklik oor hul kind se dood kan kom, maar ek glo jy kan genees. Dis soos ʼn amputasie. Die pynlike wond genees stelselmatig, maar jy sal altyd die geamputeerde ledemaat ‘voel’. Hoe lank vat die oop seer om te genees? Dit hang baie van jouself af. Hoe meer jy die rowe afkrap, hoe langer vat dit om te genees en hoe groter en leliker word die wond.
Hoewel die pad na genesing anders lyk vir elkeen, glo ek die volgende drie punte kan mense help om te genees.
Eerstens: Huil! Huil jou oë uit, huil jouself skoon. Ons is trane gegee sodat ons die pyn en hartseer kan uithuil. Dit is nooit tyd om op te hou huil nie. Huil is genade van Bo.
Tweedens: Leef! Gun jouself die vryheid om asem te haal en weer te lag. Gun jouself geluk, en moenie skuldig voel as jy jouself betrap met ʼn glimlag nie. Dit beteken nie jou verlies is minder nie, dit beteken bloot jy is besig om gesond te word.
Derdens: Vergeef! Vergewe jouself. Vergifnis en genesing loop hand aan hand, en soms loop hulle baie stadig. As jy kan, vergewe ook ons dwaasheid as ons met goedbedoelde raad jou stukkende hart verder vertrap het.
Prediker leer daar is ʼn tyd om te huil, en ʼn tyd om te lag. My innige meegevoel aan elkeen wat hulself in die tonnel van kinderdood bevind. My hart breek vir jou. My gebed is dat jy weer êrens op die pad vorentoe die moed sal vind om te glimlag en weer te leef.
©Stephan Uys 2018/08/11
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ano
Die maklikste antwoord is dat daar eintlik geen antwoord is nie. Maar tog, diep binnekant is daar wel 'n antwoord wat vir elke ouer anders sal klink. Dit is 'n tyd van diep grawe en die antwoord is nie noodwendig logies nie en hoef nie vir ander verstaanbaar te wees nie. Of mens ooit OOR verlies kom is debateerbaar ('oor' beteken dalk vergete), maar die 'doelwit' kan wees om DEUR daardie rouproses kom. Rou en die verwerking daarvan is 'n keuse wat mens waarskynlik meer as een maal in daardie tyd sal maak. En om nie te kies nie, is ook 'n keuse. Uiteindelik bly daar net een van twee paaie oor : vir ewig gebroke of weer heel en bruikbaar? Is God se doel uiteindelik vir die mens nie om ten volle bruikbaar te wees nie?