horison
effens skuins lê hy
elke asemstoot ‘n roggel
net geraamte van wie hy was
vier en trotse regop mens
integriteit onbuigbaar
swart gordyn haal hom in
stadig skuif dit oor sy gelaat
dan flikker sy oë weer
verby is dit nog nie
veg het hy van kindsbeen af
veg tot in die laaste loopgraaf
veg tot in die laaste hortende sug
veg teen onbekende wat kom
jesaja drie en veertig vertel hom:
“wees nie bevrees nie,
want Ek het jou verlos;
Ek het jou by jou naam geroep;
jy is Myne!”
langs hom drup trane vryelik
op sy koue hande rus warm hande
hande wat uitreik na sy siel en gees
koue voete lê blou en donker stil
net sy oë flikker in verbasing
oor wat hy oor horison sien kom
dan groet ek en sê sag:
“as die vader wil, sien ek jou môre ou vriend”
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.