Jongste aktiwiteit:

Verskrikking van Juffrou Groffen-van Moldeldolf (986 woorde)

Elke skool het een. Een van daai onderwysers wat Hitler soos ‘n Care Bear laat lyk. Juffrou Groffen-van Moldeldolf was Hoërskool Onsdinkonskan se tiran, despoot en diktator. Die kinders het haar gehaat. Sy het kinders gehaat. Soos dit ook in enige skool is het Juffrou Groffen-van Moldeldolf ook ‘n bynaam gehad: Ou Visoog. Die bron van haar bynaam was as gevolg van die feit dat sy ‘n glasoog gehad het. En met “feit” bedoel ek dat elke skolier dit vir ‘n “feit” geweet het, maar niemand was seker hoe hulle dit geweet het nie en of dit regtig die waarheid was nie. Dalk het die gerug ontstaan omdat Ou Visoog se oë partykeer in twee verskillende rigtings gekyk het. Nie altyd nie. Net wanneer sy de moer in was. Jy was nooit seker of sy vir jóú of vir Fanus aan die anderkant van die klas gekyk het nie.
Ou Visoog was stokoud. Dit was een ding waaroor niemand kon saamstem nie. Sy was 60 óf 120. Haar gemene streek was absoluut ‘n bewys daarvan dat sy ‘n drilsersant in die eerste wêreldoorlog was, of ‘n veldkornet in die Eerste Boereoorlog. Niemand het haar toorn vrygespring nie. As jy ‘n A+ in ‘n toets gekry het, was jy ‘n gatkruiper of het jy op ‘n manier geknoei met ‘n crib notes. Het jy gedruip was jy ‘n domonnosel pateet wat gedoem was om eendag ‘n straatveër te word. Daar was geen oogappel in haar klaskamer nie. Elke kind was gelyk in haar oë: laer as slangbollie op die bodem van die see.

Gideon Beukes was weer een van daai seuns wat ‘n anderwêreldse aantrekkingskrag en fisiese volmaaktheid soos ‘n Griekse god gehad het. Hy was kaptein van die eerstespan; krieket en rugby, al was hy nog net 16 jaar oud. Hy het die nuutste en koelste klere gedra en altyd ‘n storie gehad om te deel oor sy manewales. As een van die meisies vir nege tot twaalf maande “verdwyn” het omdat sy een of ander “siekte” opgedoen het, is daar in Gideon se rigting geloer. Hy het met moord weggekom. Onderwysers het altyd in ‘n ander rigting gekyk as hy ‘n skoolreël oortree het. Baie van dit het te doen gehad met die feit dat sy pa ‘n neurochirurg was wat gereeld vir ‘n nuwe dak vir die skoolsaal betaal het of klere vir die hele rugbyspan geborg het. Soos dit maar met bedorwe brokkies gaan het Gideon geweet hy kan met enige iets wegkom. Daar was geen lyn wat reg van verkeerd geskei het vir Gideon nie. Hy eenvoudig net gedoen wat hy wou. Die wêreld was Gideon se speelpark.

Dit het begin soos enige ander moedelose Maandagoggend. Totdat Gideon by die skool opgedaag het. Dit was glad nie ‘n vreemde verskynsel dat Gideon Maandagoggend met ‘n babbelas by die skool aangekom het nie. Hierdie was egter die eerste keer dat Gideon dronk by die skool aangekom het. Die reuk van drank het oor hom gehang soos ‘n sjebeen na toemaaktyd. As jy ‘n vuurhoutjie naby hom getrek het was die kans goed dat almal in die omtrek met eerstegraadse brandwonde sou wegloop. Soos die geluk, of ongeluk, dit wou hê was die eerste periode op ‘n Maandagoggend aardrykskunde. Oftewel, ‘n uur van hel by Ou Visoog.

Soos die spul tieners die klas ingestap het – met die gewone doodsvrees in hulle oë – het die walms van drank ook ingestap. Juffrou Groffen-van Moldeldolf het stadig met ‘n frons agter haar lessenaar gerys soos ‘n donderstorm wat opsteek in die Noorde. Haar oë het begin skeeftrek toe sy, met haar neus in die lug, begin snuif soos ‘n roofdier wat bloed ruik. Haar een oog het rus gekry op Gideon. Die ander een iewers teen die dak. Gideon was bietjie groen om die kiewe. Duidelik kon selfs sy jong, gesonde lewer ook net sóveel drank hanteer. En wat nie in kan bly nie moet uit. Daardie oomblik was nie té ver in Gideon se toekoms nie.
“Meneer Beukes,” het Ou Visoog met ‘n ysingwekkende glimlag gefluister. “Kom hier.”
Gideon se groen gelaat het bleker geword. Selfs die magtige, onaantasbare Gideon was versigtig in Juffrou Groffen-van Moldeldolf se teenwoordigheid.
“Juffrou?” het Gideon gefluister toe hy slingerend voor haar te staan kom.
“Wys vir my waar is die Panamakanaal…” het sy deur haar tande gesis terwyl sy die aardrykskunde aardbol nader gestoot het.
Gideon het nóg bleker geword en sy mond het soos ‘n vis s’n geluidloos oop en toe gemaak.
Toe bars die bom. Ou Visoog word bloedrooi in die gesig en trek weg met ‘n tirade. Sy vervloek Gideon, sy ouers, verlangse ooms en tannies en selfs sy kat. Sy gil dreigemente van skorsing, tronkstraf en die doodstraf. Met elke nuwe sin word haar stem ‘n oktaaf hoër, naderhand so hoog dat al die honde om die skool begin tjank.
Soos wat OU Visoog gil en skree swaai sy haar arms verwoed rond. Met al die op en af en heen en weer beweging sak haar brassière tot om haar middel.
“…julle daar bo gaan hard val…” En sy swaai haar arms van bo na onder. Haar een bors glip oor haar bloes se kraag en hang soos ‘n papsak wyn op haar maag. Sy word stil en kyk wat op haar maag aangaan. Sy gee ‘n gil, gee ‘n tree agteruit en beland op haar rug met ‘n “oemf!”. ‘n Glasoog rol oor die vloer en kom teen Gideon se skoolskoen tot stilstand.
Gideon se gestel kan nie meer alles inhou nie en dit wat in sy maag was word oor Visoog se tafel gesproei asof ‘n tuinslang oopgemaak is.
Toe alles en almal tot bedaring kom, hang daar ‘n stilte van stiltes oor die klas.
Gideon vee sy mond met sy mou af en bekyk die anargie voor hy droog sê, “Kyk juffrou, ek het Panama raakgekots. Dis mos waar die kanaal ook is?”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed