
Karoo-gebed
Karoo Gebed
Kom ons raak stil
Stroop ons gedagte van dit wat skeiding maak
tussen God en ons eie ek en menswees
en die wereld se sondigheid
en vra U wil
om wolke nou in die land aan te raak
druppeltrane na ‘n dors aarde te stuur waar ons menswees vrees
om langer te stry teen die droogte stryd
Die aarde bars oop
windpompe wiel onophoudelik
reik dorstig na onder op af op af op
Wind vee stof oor kaal dorheid
Tog bly ons vol glo en hoop
terwyl plant en dier op ooptes stik
terwyl wind nou dae lank waai sonder stop
en wag geduldig op die Vrystaatse reëntyd
Soos ons deur ons plase reis
huil ons harte vir die bruin aarde dorstig en wag
skape en lammers wat knibbel aan vaal bossies
damme droog sonder water wat lewe gee
Inwoners vertel ons hul water raak op en wys
die tuine in dorpe verwaarloos dat hul op die reënseisoen wag
soek selfs voëltjies en diertjies van die veld kossies
dat die wolke met nat vingers oor die droë aarde sal kom vee
By sommige plekke wag kunsmis vir nat aarde blink geploeg
saad netjies op mekaar gestapel wag
geduldig op
reën maar blou-blou hemel bly wolkeloos omraam
Boere is saans lewens- en sielsmoeg
Kniel by dorre bruin aarde en laat gly klonte grond sag
deur hul vingers en tuur van sonop
tot laatnag … huil by sterwende vee … troos … bid saam
maar meer verootmoedig ons nederig
dat U milde lewensreën oor ons geestelik sal stuur
ons wapensrusting van geloof en vertrou sal aantrek
om vol geloof te bly glo…glo… glo
dat reën ‘n droogte las sal kom verlig
en laat ons glo dat ons as boere nog die droogtyd kan verduur
en dat ander se uitkoms aan ons die versekering wek
dat ons nie een oomblik sal ophou opkyk en bid na Bo…
© Kopiereg Linda du Plessis 15/02/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.