Jongste aktiwiteit:

Karoodans

Bliksems flits blou oor die barre Karoo waar stofwolke soos spookgedaantes dans. Bliksems wat weereens geen reën bring nie.

Brenda kyk met weëmoed in haar oë toe Kobus soos ‘n pyl uit ‘n boog wegspring reguit begrafplaas toe. Sy bid sommer so met oop oë.

“Pa, hoekom het jy hier in die droeë vlaktes kom nesskop en kom boer? Die grond is ongenaakbaar. Die ergste Pa, is jou God. Hy hou die reën weg. Dis nou al 6 maande van hel pa.”
Kobus bly ‘n wyle stil. Sy oë dwaal oor die wye barre vlaktes. Selfs die gehardste karoobossie is nou net ‘n stofknoets om te wys eens op ‘n tyd het iets daar gegroei.
“Dis eintlik oor Brenda wat ek hier is pa. Pa moet sien hoe lyk haar hande, haar eens sagte vrouehande, van al die plaaswerk. En sy dink ek sien nie hoe sy ‘n traan wegpik as sy die boksie van hoop ontvang nie. Hierdie maand was daar ‘n boek by. Gebed van ‘n boer. Pa, sy het die ding al vodde gelees. En ek verstaan nie.”
Brenda hou op bid toe sy Kobus sleepvoetend sien terugloop. Sy sien die dinkvore op sy voorkop toe hy nader kom. Sy glimlag en staan op om tee te gaan maak.
Sy dra die tee en die korslose broodjies na die stoeptafel toe. Sy moes eers die muf afsny. Hulle gaan darem môre koöperasie toe vir hulpvoer en ‘n kospakkie. Die Here stuur altyd uitkoms as die nood op sy hoogste is.
Kobus sien dat Brenda net een broodjie kry en hy kry drie. Sy hart wil van liefde bars vir hierdie vrou maar hy kry só skaam omdat hy nie vir haar kan sorg soos wat dit hoort nie. Genadebrood is harde brood om te kou.

“Liefie, ek sal die skape gaan kos gee dan ry jou gou op en pomp die water.” sê Brenda terwyl sy opstaan om die skottelgoed kombuis toe te vat.
Kobus staan op en vou Brenda toe in sy arms. Woorde het hy nie meer om vir haar te sê nie. Hy hoop die drukkie is meer werd as ‘n duisend woorde.

Die volgende oggend is Brenda vroeg op die stoep met haar glimlag, tee en nog een cupcake wat sy in twee gedeel het. Kobus kyk haar net kopskuddend aan.

By die koöperasie word die vrouens eenkant geroep terwyl die manne hulle kwota voer laai. Dié keer is daar ‘n bonus van ‘n paar sakke ekstra. Al die manne glimlag breed.

Innerlik voel Kobus verlig dat hy met die manne kon praat. Ten minste voel hy nou nie meer soos ‘n nikswerd drommel nie. Die droogte het hulle almal plat op die aarde geslaan.

Binne is daar dames net soos kelnirinne aangetrek, bont en vrolik, wat hulle bedien. Elke vrou kry ‘n pakkie wat hulle eers by die huis mag oopmaak. Hulle eet heerlike gevulde pannekoek wat dit laat voel soos Kersfees, Nuwejaar en ‘n verjaarsdag saamgegooi. Nagereg is melktert, vlatert en vrugteslaai. Die beste van alles is die koffie. Heerlike boeretroos uit ‘n blikbeker. In hierdie droogtetyd so skaars soos hoendertande.

Onder die gedempte vrolikheid word hulle na ‘n stoorkamer gelei. Brenda wonder of Kobus en die manne ook iets kry om te eet. Sy het vir hom ‘n gevulde pannekoek in ‘n servet toegedraai in haar handsak gesit.

Die stoorkamer is vol groot kartondose. Elke vrou kry ‘n werker met ‘n trollie wat die boks vir haar na hulle voertuig gaan stoot en dit gaan oplaai. By die deur staan die “kelnerinne” in twee rye soos ‘n erewag. Soos die vrouens uitgaan kry elkeen ‘n boekpakkie, ‘n drukkie en ‘n pakkie pepperminte. Hulle voel soos prinsesse.

Brenda is só opgewonde in die trok. Sy kan nie wag dat hulle by die huis kom nie.

“My man, jy gaan sien vanaand gaan dit reën. Ek het gebid en God het my geantwoord.”

“Brenda, as dit reën vanaand sweer ek, ek sal nooit weer ‘n kerkdiens mis nie. En ons sal elke aand huisgodsiens hou.”

Op pad huis toe begin daar ‘n effense windjie te waai. Die stof dwarrel lui-lui oor die pad. Halfpad slaan daar bliksemstrale in die verte uit.

By die huis is alles afgelaai en in die store gepak. Hulle het altwee hard gewerk maar dis nou gedoen.
Brenda maak vinnig haar pakkie oop wat hulle by die tafels gekry het. Daar is die helderste, kleurvolle rokkie in en wonder bo wonder pas dit perfek. Sy trek die rokkie aan en gaan staan op die stoep langs Kobus. Sy vou haar arms om sy lyf en kyk op na die wolkbedekte lug met trane wat warm van dankbaarheid oor haar wange stroom.

“Jy lyk pragtige my blom”. mompel hy in haar hare.

En toe begin dit reën.




Dink woorde is die mooiste en beste ding in die heelal. Hou van opbouende kritiek.

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed