Kinders van Afrika
sy kom kaalvoet oor die duine van ‘n Weskus-strand
en loop alsó
deur die sagte (en baie warm) sand
om haar enkel
is daar ‘n riempie vasgebind
met sewe koperkrale
om die stringetjie gesnoer
sy’t ‘n skerp klip in haar hand
en wyl die wind net effe roer
breek sy deur die see se branders
en swem tot by die rotse
waar die vetste perlemoene op haar wag
. . . sy lag
die water het haar lief
dit wals om haar heupe
die son kus haar bors, haar wang,
haar lippe
sy voel die hartklop van die aarde
– polsend –
deur haar tenger lyf
die dag raak weg agter horisonne
en die avond-uur
word in wolk en vuur
teen die hemele geskryf
met eerste sterre-skittering
rus sy reeds
langs ‘n strandveld-bos
haar een enkele beskutting
‘n sagte springbokvelkaros
sy voel ‘n bietjie bang
maar sy kyk na bo
en haar blik word vasgevang
deur sewe silwer sfere
wat geruisloos
(só asof dit reuse mane is)
bo die fosfor branders hang . . .
en sy wis die grootheid van die Godheid
en ook die nimmereinde
van ‘n wêreld in ‘n wentelbaan
oor die lewe en die dood
het sy tóé meteens verstaan
*
hy staan kaalvoet in ‘n vlak graf
langs die see by Melkbosstrand
dis die jaar van twintig vier-en-tien
hy is lief vir die son
hy is lief vir die see
sy vingers
– wat oor haar bruin gebeentes vee –
volg die kontoere van haar ribbekas
waarbinne – eenmaal – lank gelede
ook ‘n lewe en ‘n hartklop was
en selfs nóú
na alle eeue
vind hy nog die reste
van perlemoenskulp in haar hand
en om haar enkel
– uitgespreid –
tel hy sewe koperkrale
dofblinkend
in die warm sand
C. Shaw
19 November 2014
* Ek het die gedig geskryf na aanleiding van ‘n droom meer as 30 jaar gelede waarin ek langs die strand staan in die nag. In die droom het ‘n aantal reuse maanagtige sfere bo die water gehang en na regs beweeg.
* In 2014 is ‘n aantal khoi-san skelette by Melkbosstrand ontdek en uitgegrawe deur argeoloë. My man se broerskind was betrokke by die uitgrawings.
* Die res is my storie wat ek daarom gebou het. 🙂
6 Kommentare
-
-
Toom
Die illustreerder (van 'n boek, bv) weet hoe om sy prent só op te bou dat verskeie elemente van die verhaal daarin te erken is. Jou ,illustrasie' is van 'n groter, tydlose wêreldbeeld of -verhaal en 'n paar insidente daaruit, baie mooi saamgestel met helder fokus daarop. Dankie! GvT
-
Palet
Mooi storie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Loretta Szikra
Wow Carma, wat kan n mens sê... net jy weet hoe om n prentjie so pragtig te skilder!!