kindjie (Brons)
kindjie
(vir elke outistiese kind)
vir jou onbevange gees
is die wêreld ‘n bolletjie klei
in jou wyse hand
jou trane kan riviere word
jou laggies rots en klip
maar hul verkies jou broos
passeer jou ruimtes
met bedenklike baniere:
hanteer versigtig!
legkaartstukkie! vlinderkind!
tussen die vraagtekens in hul oë
en die uitroeptekens in joue
het hul jou verloor
en jou mamma bid en bid
sy onderhandel met God
– nie oneerbiedig nie –
sy pleit, sy smeek
sy roep dit soms hardop uit
terwyl God in haar oë kyk
en sy bly hoop dat juis háár gebed
God se hart só roer
dat Hy sy plan met jou
wysig
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek