Jongste aktiwiteit:

Kunsmatige intelligensie en gesondheidsorg

(Woordtelling 1298)

 

Navorsers by die Tsinghua Universiteit in China was die afgelope jaar of twee besig om ʼn hospitaal genaamd Agent Hospital, te bou en hulle hoop om dit voor die einde van 2024 in werking te stel. Liu Yang is die leier van hierdie projek. Die verskil van hierdie nuwe hospitaal is dat dit deur kunsmatige intelligensie bedryf sal word en nie deur mense nie. Pasiënte word gediagnoseer en behandel deur veertien AI (kunsmatige intelligensie) dokters en vier -verpleegsters of assistente.

Is dit dalk die ondergang van nie net die gewone huisdokter nie, maar ook die chirurg, laboratorium tegnikus, radioloog, apteker, dieetkundiges, pediaters, ginekoloë ens. nie? Gaan die masjien tog eendag die mens vervang?

Dit is definitief ʼn pluspunt dat die robot of AI baie meer pasiënte kan sien as wat menslik moontlik is. Hy hoef nie te slaap nie, het nie jaarliks ʼn vakansie of verhoging nodig nie, word nie siek nie. In hierdie hospitaal kan die veertien robotte tot 10 000 pasiënte binne enkele dae diagnoseer en behandel waar dit dieselfde hoeveelheid dokters tot twee jaar sal neem om dieselfde hoeveelheid pasiënte te behandel. Dit is verseker ʼn bonus dat sy akkuraatheid 93.06% is!

Verby is die dae wat jou dokter na jou simptome luister, bietjie kopkrap, en jou dan na die laboratorium vir bloedtoetse stuur. As die diagnose korrek is, moet jy die voorskrif kom optel, en indien nie, moet jy terugkom vir verdere toetse totdat die probleem opgelos is. Dit gebeur soms dat die dokter glad nie die oorsaak van jou ongesteldheid kan vasstel nie, al was elke moontlike toets onder die son gedoen. Soms word die verkeerde medikasie voorgeskryf en dan moet die pasiënt behandel word vir die newe-effekte daarvan. Soms word die verkeerde diagnose gemaak en die gevolge kan lewensgevaarlik wees.

Met elke besoek moet daar enigiets tussen ʼn paar honderd tot derduisende rande opgedok word, afhangende of jy ʼn huisdokter of ʼn spesialis sien. Mediese fondse dek ook nie alle ondersoeke of selfs sekere medikasie nie. Voor jy jou oë uitvee, is daardie rekening leeggetap en moet jy uit eie sak begin betaal en die meeste mense kan bloot net nie so ʼn onvoorspelbare uitgawe bekostig nie.

Die ongemaklike waarheid is dat ʼn mens nie ʼn masjien is nie, al het jy jare se studies en ondervinding agter die blad. Daarom gebeur dit nog steeds dat ʼn dokter hand in die hare sal sit en by die mees waarskynlike siekte behandeling sal begin toepas. So word die moontlike siektetoestande een na die ander uitgeskakel totdat jy by die regte diagnose uitkom. As jy gelukkig is, gebeur hierdie vinnig, anders kan dit ʼn baie duur ondervinding word. Aan die ander kant, sal ʼn masjien ooit vir ʼn pasiënt sê dat sy ipekonders het, terwyl sy in haar hart weet daar is iets fout en die dokter kan dit net nie diagnoseer nie.

China se idee van hierdie hospitaal is dat jy vir AI vertel watter simptome jy ervaar. Omdat dit ʼn rekenaar is, het hy toegang tot baie meer kennis as wat in ʼn mens se brein ingeprop kan word. Nog voor die besoek verby is, is die diagnose gemaak en die regte medikasie vir daardie spesifieke probleem word voorgeskryf. Dit verminder die kans dat jy keer op keer sal moet teruggaan omdat jou ongesteldheid nie verbeter nie, of omdat die medikasie nie die verwagte uitwerking het nie.

Tog kan kunsmatige intelligensie nie heeltemal die menslike aspek vervang nie. ʼn Rekenaar kan nie jou hand vashou wanneer jy bang is nie. Hy kan jou ook nie ʼn drukkie op die skouer gee nie. Doen dokters dit nog? Miskien is rekenaars se “bedside manners” op die oomblik nog bietjie te klinies vir die oorgrote meerderheid van die mensdom.

 

Die voordele van kunsmatige intelligensie in gesondheidsorg.

Dit is meer bekostigbaar en koste effektief vir almal – pasiënt en mediese praktisyn. Daar is beter pasiëntesorg en ʼn toename in administratiewe effektiwiteit. Pasiënte hoef nie vir ure lank in ʼn ry by die hospitaal te sit en wag om ʼn dokter te sien nie. Die dokters word nie uitgeroep vir ʼn noodgeval terwyl jy geduldig in die wagkamer wag nie. Vinnige en akkurate diagnoses word onmiddellik gemaak, of dit nou x-strale is, MRI’s, of breinskanderings is, en kan diagnoses soos kanker, beenbreuke en hartsiektes onmiddellik diagnoseer. Hierdie tegnologie kan ook die regte medikasie vir die spesifieke persoon voorskryf om veiligheid en vinnige herstel te verseker. Siektes word heelwat vroeër en met groter akkuraatheid gediagnoseer. Operasies word met groter akkuraatheid uitgevoer en skakel grootliks menslike foute uit.

 

Die nadele van kunsmatige intelligensie in gesondheidsorg.

Daar is ʼn risiko aan verbonde om jou persoonlike en sensitiewe inligting vir “almal” beskikbaar te hê. Indien die rekenaar die verkeerde opleiding kry, of die verkeerde inligting word ingevoer, sal hy nie ʼn akkurate diagnose kan maak nie. Wie is verantwoordelik indien die verkeerde diagnose gemaak word? Die algemene publiek mag dalk nie die nodige vertroue hierin hê nie, en dus nie ontvanklik hiervoor wees nie. Dit sal baie kos om te ontwikkel en te implementeer. Indien ʼn mediese dokter te veel op kunsmatige intelligensie staatmaak, kan sy eie vermoë om diagnoses te maak daaronder lei. Daar mag etniese probleme ontstaan wanneer die pasiënt se geloofsoortuigings en/of familie voorkeure nie in ag geneem word nie. Ons het daagliks te doen met data wat uitlek, kuber aanvalle, en lospryse wat geëis word om inligting weer vry te stel.

 

Tog maak sommige lande soos die VSA, Kanada en Engeland al hoe meer gebruik van kunsmatige intelligensie in mediese ondersoeke. Selfs hier in Suid-Afrika is dit nie heeltemal onbekend nie, alhoewel dit verseker nog onbemind is. Die probleem is dat medici nie hierdie tegnologie erken nie (want dit hou ʼn moontlike bedreiging vir hul loopbaan as dokters in?). Die algemene publiek het ook nie vertroue hierin nie want dit word nie deur die medici ondersteun en gebruik nie. Boonop is praktisyns van hierdie tegnologie skaarser as hoendertande.

Sommige mense beweer dit is niks anders as ʼn New Age praktyk, of selfs heksery, is nie. Hulle sal veel eerder voor ʼn mens sit en vele toetse ondergaan sonder om ooit by die werklike oorsaak van hul probleem uit te kom, as wat hulle aan ʼn rekenaar gekoppel wil word en binne minute hul hele mediese geskiedenis swart-op-wit te sien.

Daar is verskeie name vir hierdie praktyk naamlik Quantum Analysis, Quantum Healing of Scio. Die kliënt word aan ʼn rekenaar gekoppel met elektrodes wat om die enkels, polse en kop vasgebind word. Dit neem sowat ʼn uur om ʼn volledige ondersoek te doen – iets wat ʼn dokter weke sal besig hou en derduisende rande sal kos. Elke orgaan word getoets en indien dit nodig is, sal die persoon na ʼn mediese praktisyn verwys word vir verdere behandeling. Indien die pasiënt by die dokter se spreekkamer opdaag, akkurate diagnose reeds gedoen, kan behandeling baie vinniger begin – d.w.s. indien die dokter vertroue in hierdie praktyk het.

Hierdie masjien kan enigiets diagnoseer van hoë stresvlakke, depressie, verlaagde immuunstelsel, kroniese pyn, slaaploosheid, tot ʼn gewone ou verkoue wat net nie wil verdwyn nie.

Die skandering kan die persoon help om ongediagnoseerde allergieë uit te sorteer, te veel of te min vitamines en minerale, ongebalanseerde hormone, probleme met spysvertering. Is daar dalk virusse/bakterie/fungus/parasiete in die persoon se bloed of organe. Jou bloeddruk, suikervlakke en cholesterol word getoets sonder dat ʼn druppel bloed jou liggaam verlaat. Spore van siektes wat jy dekades tevore gehad het, kan soms steeds in die liggaam opgespoor word, en effektief behandel word.

Ons is wel verbaas dat daar ʼn hospitaal geopen sal word wat net deur robotte beman word, terwyl ons lankal reeds van hierdie tegnologie op ʼn klein skaal gebruik maak. Dit is nou net nog nodig om Jan Alleman te oortuig dat onbekend nie onbemind hoef te wees nie.

 

Bronne :

https://www.globaltimes.cn/page/202405/1313235.shtml

https://hitrustalliance.net/blog/the-pros-and-cons-of-ai-in-healthcare#:~:text=Data%20privacy%20and%20security%20risks,underdiagnosis%20of%20certain%20demographic%20groups.

https://www.ulverston-natural-health-centre.co.uk/quantum-energy-scan.html

 

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed