Jongste aktiwiteit:

ʼn Handvol honger wolwe

(Woordtelling 784)

 

Dit is nou al ʼn geruime tyd wat ek probeer om hierdie twee wolwe in my binnekant se bekke toe te druk, maar hulle bly dreig om uit te kom. ALMAL van hulle, maar watter een sal ek voer?

Sal dit die Acrylic Pouring wees? Ek het juis lankal weer lus om ʼn dam verf op ʼn skoon doen te gooi en te sien watter wonderlike dinge daar ontspruit. Soms is die resultaat bietjie naar en die kleurkombinasie skreeuend in ongemak, maar ons praat liewers nie daaroor nie. Ten minste nie met Hubby nie. Hy wil ʼn toeval kry wanneer ek die verf afskraap en oor begin want soveel morsery is skynbaar nie goed vir sy bloeddruk nie. Dat hierdie huis nou al so vol van prentjies en dingetjies is, praat ons ook nie oor nie. Daar is oënskynlik ook nie eens meer ʼn gaatjie vir ʼn vismot of twee om ongesiens ʼn nageslag te begin nie. Inteendeel, wanneer hulle sien hoe die goed op ʼn ry gepak staan, vertrek hulle dadelik na die bure se huis. Dis baie lekkerder en ruimer daar.

Of dalk moet ek eerder my lus vir naaldwerk weer bietjie onder beheer kry? My mond water al hoeka om weer voor die masjien in te skuif en nuwe lewe aan ʼn vormlose stukkie katoen te gee. My bed kort juis weer ʼn mooi jassie en die lappie lê al lank geduldig en wag. Soms sug ek sommer omdat ek party dae nie lus het nie, ander dae nie plek het om te werk nie, en die res van die tyd bloot net nie tyd het om so lank stil te sit nie.

Maar wag, hoekom voel ek nou nie in twee geskeur nie, maar sommer vier! Wat dan van skryf? Ek sien die maand staan alweer einde se kant toe, en ek staan in groot skaamte hier voor die rekenaar, wetende dat luiheid nie ʼn aantreklike eienskap is nie. Ook altyd ʼn verskoning, nè? Het mos tyd vir alles behalwe bietjie diep dink en die sleutelbord nader te trek. Daar is min dinge so geduldig soos ʼn ou rekenaar se ou sleutelbord – goed gebruik. Dis is mos maar so dat hy ʼn geduldige oor het en nie teëstribbel oor alles wat op hom uitgehamer word nie.

Darem het ek al vroeg vanoggend, voor ʼn ander afspraak, gou die Resin benodighede nader getrek. Dit was veronderstel om ʼn klein projekkie te wees, maar soos altyd het die ding onverwags onder my vingers ontplof. Dit was te heerlik om die mooie poeiertjies en ander blink goetertjies te meng en dit dan weer na ʼn volgende vorm te verplaas. Het ek dan nie deur die nag in my drome uitgewerk presies hoe om ʼn sekere ding te doen dat dit sag op die potensiële kliënt se oog sal val nie? Die grootste uitdaging is om ʼn hele vier-en-twintig uur te wag voordat die eindresultaat beskou kan word!

Nou laat ek sommer net hier vastrap en ʼn goeie besluit maak. As Hubby nou die pampoen sal skil en op die stoof kry, het ek mos tyd om ʼn paar bottels kleure te meng vir. Dit is nogal ʼn taak om te sorg dat daar nie klonte in is nie en die voorbereiding neem gewoonlik langer as die res. As dit vandag reeds gedoen word, kan ek mos more vroeg-vroeg met groot entoesiasme uit die bed spring! G’n gesukkel om hare te kam nie, vlieg net uit die nagklere in ander ou klere en doen die lekker ding. Die enigste struikelblok is dat Hubby seker eers moet kans kry om ontbyt te eet.

As die verf vanmiddag klaar gemeng is, en die kombuistafel is nie vol allerhande spatsels nie, kan ek gou daai stukkie lap oopgooi en die nodige afmetings maak voordat dit geknip word. Aangesien die verwery seker nie meer as ʼn uur of twee sal neem nie, is die res van die dag dan mos beskikbaar vir naaldwerk. Ek is nogal nuuskierig om te sien of ek nog die spoed het van jare gelede, en of daardie bed se nuwe baadjie more aand bruikbaar sal wees, of nie.

Wel ja, daar het ons dit nou. Dit is dan nou tyd om daardie vier honger wolwe een vir een te voer sodat geen een afgeskeep sal voel nie. Als uitgepluis. Sal vandag die voorbereiding doen en more verder werk. Oe jippie! Ek kan nou nie wag om hierdie stukkie af te sluit en te begin mors nie. Dis mos altyd lekker – daai morsery, veral as dit ʼn mooi resultaat het!

Skynbaar kan mens berge versit wanneer jou kop eers op die regte plek is. Gee pad julle uitgehongerde stokperdjies, mammie is op pad.

 




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed