Wat ʼn ramp!
(Woordtelling 675)
Vanoggend moes ek oor RSG se vroegoggend program, Monitor, hoor dat ek en Hubby nou presies 37 jaar getroud is. Ja, reg gehoor, oor die radio nogal. Nie asof enigeen ʼn boodskap of gelukwensing ingestuur het nie. Dit was egter die herlewing van Suid-Afrika se grootste lugramp wat ook die herinnering aan ons troudag geprikkel het. ʼn Dag wat ek on verskeie redes eerder sou wou vergeet, maar om al die verkeerde redes herinner word.
So tussendeur sykouse aantrek en hare kam het ek en my strooimeisie op 28 November 1997 baie tyd voor die televisie deurgebring. ʼn Boeing 747, die Helderberg, vlug SAL 295, was op pad terug vanuit Taiwan en het kort voor landing in Mauritius in die Indiese oseaan neergestort. 248km voor die naaste lughawe en die 159 mense aan boord is almal dood. Die oorsaak was ʼn brand, en die vermoede was dat dit moontlik deur terrorisme veroorsaak kon wees. Latere ondersoek het daarop gedui dat daar die vliegtuig dalk onverklaarde van die destydse apartheidsregering vervoer het.
Niemand wil in ʼn vliegtuig duisende kilometer van die naaste land ontdek dat daar ʼn brand aan boord van ʼn vliegtuig is nie. Veral nie wanneer daardie vliegtuig bo die grote oseaan vlieg nie. Dan verklein hierdie mensgemaakte wonderwerk en word niks anders as ʼn vlieënde metaal-buis waaruit jy nie kan ontsnap nie. Daar is geen plek om uit te spring nie, en selfs al sou jy dit kon doen, is jou kanse op oorlewing nog minder as nul.
Met groot skok het ons na die tragiese gebeure geluister en dit het beslis ʼn prop op die feesvieringe gedruk. Hubby was in daardie stadium werksaam as ʼn tegnikus by SAL en hy was bekommerd dat hy dalk ingeroep sou word vir ʼn onderhoud. Eintlik is dit ʼn intensiewe ondersoek na alles wat die mense dalk verkeerd kon gedoen het, eerder as ʼn onderhoud. Was die skroewe se groewe dalk al uitgewerk? Was daar genoeg smeermiddel op die regte plekke? Was al die deure mooi toe? Hoe was die vrag gepak? Het iemand in die toilet gerook? Elke enkele persoon wat betrokke is by ʼn vliegtuig se instandhouding word deeglik ondervra.
Genadiglik was dit nog voor selfone in ons lewens verskyn het. Niemand het geweet waar in die land ons rondrits nie en ons kon ons vakansie in vrede geniet. Dit was wel nie besonders lekker om met ʼn vliegtuig na ons bestemming te reis nie want as een vliegtuig sommer-maar-net uit die lug kon val, kan ʼn ander dit mos ook doen!
Dit was in die weke daarna wat die drama vir my eers werklik lewe begin kry het. Danksy Amerika se bystand is stukke van die wrak twaalf ure later opgespoor. Agt liggame is opgepik en almal het tekens van trauma getoon. Uiteindelik is die wrak op bykans 5,000 meter onder die wateroppervlak opgespoor. Net sekere stukke van die vliegtuig is na die oppervlak gebring en is gedeeltelik soos ʼn groot legkaart aanmekaar gelas. Personeel van die lugdiens en uitgesoekte lede van die publiek kon hierna gaan kyk.
Dit is eintlik siek om te dink dat mens nou uit nuuskierigheid gaan ginnegaap oor die wrakstukke waarin soveel mense hul lewens verloor het.
Ek was onder een van die “gelukkiges” om ook te gaan kyk. Wat my tot vandag toe bybly is die verweerde tasse wat uit die water opgepik was. Onpaar skoene. Paspoorte en ander dokumente. Die wit teddiebeer was seker ʼn geskenk vir ʼn kind, of dalk was dit reeds die eiendom van ʼn kind.
Volgens die Taiwannese owerheid was daar onder die passasiers 30 Taiwannese burgers, 19 Suid-Afrikaners, 47 Japanese, 2 Mauritiane, ʼn Deense burger, ʼn Hollander, ʼn Brit en ʼn Duitser aan boord. Dit is nie bekend hoeveel volwassenes en hoeveel kinders deel van die passasierslys uitgemaak het nie.
Baie mense sal nie eens meer onthou wat hulle op daardie oomblik gedoen het nie, of waar hulle was nie, tog was dit ʼn dag waarop tyd vir ʼn paar uur tot stilstand gekom het. Vir ewig in ons geheue ingebrand.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek