
Lekker bredie en dik snye boerbrood
(Woordtelling 478)
Afrikaans is soos ’n bredie – daar is altyd plek vir nog bietjie vleis, groente of speserye. Is dit dan nie oorspronklik ʼn kombuistaal genoem nie? Hierdie eens veragtelike kombuistaal het egter gou-gou in ʼn lekker potjie dik bredie met ʼn geurige sous verander, die vernedering lankal vergete.
Eintlik staan ons moedertaal maar nog in sy tienerjare in vergelyking met Engels en die ander Europese tale. Alhoewel Engels ook deur die eeue ontwikkel en verander het, is verandering net soveel meer sigbaar in ʼn nuwe taal. Die Afrikaans wat mense soos C.J. Langenhoven, Eugéne Marais, Boerneef, Totius en nog vele ander gebruik het, ʼn skrale 100/150 jaar gelede, klink darem baie anders as dit waaraan ons nou aan gewoond is. Maar verandering is selde ʼn slegte ding, of hoe? In die eerste gedrukte weergawe van Die Afrikaanse Patriot wat op 15 Januarie 1876 verskyn het, kan mens duidelik sien dat ons nie meer so praat nie. Die spelling en taalgebruik klink maar woes vreemd.
Meer moderne skrywers soos Audrey Blignault, PG du Plessis, Uys Krige, Dalene Matthee, Jan Spies se stories en soveel ander groot geeste, het elkeen bygedra om ons taal te bevorder en uit te brei. Sonder Afrikaanse radio en -skole sal dit ongelukkig ook weer terugkeer na ʼn dialek wat net in die huis gepraat word, maar ons sal dit sal nooit weer ʼn kombuistaal noem nie. Ons baklei nie verniet so hard dat Afrikaans moet bly staan nie, want as Afrikaans val, is daar ten minste tien ander tale wat ook hul alies moet sien. Ek is jammer, ek hou van regverdigheid en as die minister sy mes in het vir Afrikaans, kan hy maar sy eie moedertaal ook daarby insluit.
Nie net gebruik ons leen-woorde uit ander tale nie, maar die anglisismes is ʼn ongemaklike warm kooltjie in my skoen. Dit knou Afrikaans af en is sommer net lui praatjies. My gesig trek sommer op ʼn mislike plooi wanneer ek geen idee het wat die persoon nou eintlik gesê het nie! Dan eers die Engelse woordeboek nadertrek en met ʼn ompad die woord se betekenis probeer uitvind. Ai man, dit is so onnodig! Het ons taal dan nie genoeg mooi en beskrywende woorde sonder om sulke platvloerse vertalings te maak nie?
Afrikaans mag dalk nie die belangrikste taal in Suid-Afrika wees nie, maar dis verseker ook nie die uitskot nie, al haat party mense dit met ʼn passie. Net soos elke ander taal, het Afrikaans ook sy plek en bestaansreg hier aan die suidpunt van Afrika. Dit hang nou van jou en my af hoe hard ons wil werk om Afrikaans nog lewendig en suiwer te hou. Sonder “ons” (wat maar ʼn handjievol van die totale bevolking uitmaak), sal ons nie meer in Afrikaans kan lag, bid of huil nie. En vra my maar, dis rêrig nie lekker om in Engels te huil nie!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2022 Wat skryf ek?