Jongste aktiwiteit:

Afrikaans is ʼn lewendige, vernuwende taal!

Afrikaans is ʼn lewendige, vernuwende taal!

Ek stem heelhartig saam met die stelling dat Afrikaans ʼn lewendige, vernuwende taal is. Ons moet histories kyk hoe die taal ontwikkel het oor die jare. Afrikaans is ʼn lewendige taal wat homself gedurigdeur transformeer. Van die vroeë ontstaansjare het Afrikaans uit verskillende dialekte ontwikkel. Alhoewel die variëteite al sedert die ontstaan in gebruik was, is die variëteite eers in 1980 taalkundig onderskei. Drie bekende dialekte is: Afrikhoi, Afrikaaps en Afrivaal. Geeneen van die variëteite word egter geag as meer belangrik nie: Afrikaans is Afrikaans! Vandag gaan jy egter nie net die historiese variëteite vind nie as gevolg van groei en vernuwing wat plaasvind.

Sedert 1917 is die Taalkommissie verantwoordelik vir die samestelling van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Hierdie publikasie se doel is om riglyne neer te lê rakende spelreëls. Dit is noodsaaklik om byderwetse woorde op te neem in die nuwe uitgawe van die AWS. Soos prof. Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie opgemerk het: “Afrikaans is ʼn dinamiese taal wat deurlopend ontwikkel en die jongste AWS is ʼn opwindende, lewende bewys hiervan.”

Met die bekendstelling van Pharos se Tesourus van Afrikaans in 2021 is daar bevestig dat Afrikaans ʼn taal is wat ʼn groeifase beleef. Hierdie tesourus bied aan die verbruiker ʼn groot verskeidenheid van Afrikaanse woorde. Die Tesourus van Afrikaans is beslis ʼn waardevolle instrument in enige skrywer se hand.

Ek raak woedend as mense die Afrikaanse taal verkleineer as ʼn “uitheemse” taal en blatant teen die taal diskrimineer. Afrikaans is een van weinige tale wat tot op akademiese gebied al digitaal ontwikkel het. Ek besef dat min tale so moes veg vir oorlewing en alhoewel daar groeipyne was, het Afrikaans lewenskragtig ontwikkel. Die bewys is dat Afrikaans nog nie van die toneel verdwyn het nie.

Die behoud van ʼn taal is dat die taal gepraat moet word – soveel as moontlik! Die nageslag moet weet dat ons as die ouer mense ons taal met trots praat. Dit laat jou breed glimlag as jy hoor hoe kunstenaars nie struikel of stotter as hulle toesprake lewer nie. Jy sal ook nie hoor dat daar van Engelse woorde gebruik gemaak word nie.

Een plek waar jy kan sien dat Afrikaans besig is om te groei in vernuwing is beslis gedrukte media! Weliswaar sal Afrikaans van jare gelede anders klink as Afrikaans van 2022, so ook sal Afrikaans van 2050 anders klink. As die taal in geskrewe vorm van Standaardafrikaans bewaar word, sal die nageslag dit ook vorentoe kan gebruik. Om nie heeltemal uit verbruik te raak nie, moet groei in Afrikaans erken word.

As jy aan Afrikaanse musiek dink, kom daar sekerlik ‘n hele paar ou, tradisionele liedjies by jou op. Daar is beslis ʼn nuwe tendens in die Afrikaanse musiek wat talle grense oorskry en nuwe lewe in musiek blaas. In Afrikaans is daar nuwe vars kunstenaars wat nie skroom om met Afrikaans te eksperimenteer nie. Soos die kunstenaar Henru dit verwoord: “ek doen my ding in Afrikaans en die ding gaan nog mal”.

ʼn Vaste feit is dat ʼn taal slegs lewendig geag kan word as dit baie gepraat word en aanhoudend kan aanpas in nuwe omstandighede. Juis daarom klink Afrikaans in vandag se tyd anders as jare gelede. Taalvernuwing is noodsaaklik vir ʼn taal om in gebruik te bly, anders bestaan die gevaar dat die taal in onbruik raak en geleidelik sterf.

Ek ondersteun die stelling dat Afrikaans ʼn lewendige, vernuwende taal is, ten volle!

©Marlene Erasmus
27/07/2022
(565 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed