Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Lied van die sondaars

Deur Marieta McGrath
Datum gepubliseer: 4 Maart 2019 Aantal woorde: 389 454 Kere gelees 7

(brons)

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is…”

Die SS soldaat
wat sy geweer uitgelood het
op ‘n Jood,
sy lip in nare krul,
op sy skoen ‘n groot, rooi vlek.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is…”

Die Kongolese militant
tronend op swaar stewels
van haar, wurm, weggedraai,
terwyl aan sy penis
bloed en skande hang.

“Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is…”

Die Hamas-heilige
swaai sy hande langs ‘n vuur,
spuug bloed en bomme
om vryheid van onskuld te verhaal.

Kom na my toe, almal wat moeg soek na vergewe,
saamgespan voor Pilatus en Herodes,
honde wat honger in die lug jap.
Kom na my toe, volk van die Messias,
wat julle aan ‘n kruis gehang het,
toe in bloed en vloek en skande
my Vader jul vergeef het.

Ek sal julle rus gee

moordenaars

verloënaars

tollenaars

sondaars

Julle moet ek by tuisgaan.
Julle hou leë hande uit
en voete om te was.

Kom na my toe

Petrus
Saggeus
Rower aan die kruis

Ek sal saam met julle
in die paradys wees.

©Marieta McGrath

*jap: al springende blaf
*uitgelood: leeggeskiet

Na aanleiding van Lina Spies se “Lied van die kinders”.

“Laat die kindertjies na My toe kom”

Die Joodse seuntjie
wat sy armpies in die lug steek
voor die SS,
sy oë wyd gerek,
op sy mou die groot, geel Dawidster.

“Laat die kindertjies na My toe kom”

Die Viëtnamese dogtertjie
oumens-krom aan haar stok geklem
op die slagveld heen en weer
terwyl oor haar bors
’n kruisie hang.

“Laat die kindertjies na My toe kom”

Die klein vergete Ier
op ’n sypaadjie in Belfast
tussen die bloed en bomme
wat opnuut sy land vrymaak.

Laat die kindertjies van Israel na My kom,
gevang in die kruisvuur by Ma’alot –
bang hasies in ’n bos wat brand.
Laat hulle kom, die gevreesde koningskinders van my volk
wat die Romeine doodgesteek het
toe in ’n stal se stank van mis en bloed,
ek self die Kind van Bethlehem was.

Verhinder hulle nie

Herodes

dissipels

soldate

grootmense

Hulle hoort in my koninkryk:
hulle weet van wonde
sonder om te twyfel of te vra.

Laat hulle kom

kinders van Dachau
kinders van Korea
kinders van Saigon

Ek sal hul teen my sy vasdruk
en my hande op hul lê.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    5 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

  2. Ronel Janse van Vuuren

    7 Maart 2019

    Pragtig!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 25
Kommentaar telling: 3

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 228 gaste aanlyn

Bydraes – Argief