Loop saam, loop saam deur die lewe…
. . . stap saam na Hanover traat. Ons stap ’n wye draai deur toeka.
Radio se toeka, is onafwendbaar deel van myne. Vroegoggend was Flink uit die Vere met Fanus Rautenbach. Na ontbyt 9h15 was dit Siembamba, waar onder andere Liewe Heksie lewe gekry het. Van 10h30 afwas daar ’n program vir die huisvrou. Ek vergeet die naam, maar ek onthou dat ek vir Emsie Schoeman hoor praat het.
Smiddae doen al die kinders by die eetkamertafel huiswerk. Die klein Phillips radio’tjie ingeskakel op Springbokradio se stories. Ousus oefen haar snelskrif en shorthand op So maak Mens met Esme Euvrard en Jan Cronje. Saans net na die 7uur nuus en Boekevat, nog ’n heerlike storie. Wie onthou dan nie die Du Toits van Soetmelksvlei nie? Daarna ’n halfuur vermaaklikheid. Stadig oor die Klippertjies, Kolskoot of Skote Petoors.
In die nuus; die maanlanding en slyp-moord deur Tsafendas op Doktor Verwoerd
Vrydagaande luister ons ‘Consider your verdict’, maar boeta sweer die naam is ‘Priscilla your guilty’. Later luister ons ‘Squad Cars’ en Sondagaande ‘Men from the Ministry’. Iewers deur die week volg ons vir Staal Burger en sy doedie. En LM radio se ‘Hit Parade’. Sondagmiddag bied Esme ‘Forces Favourites’ aan en almal wat iemand in die weermag ken, huil snot en trane op die maat van Forty Days.
Van toeka tot nou luister ons boeremusiek treffers op Vastrap. Die tydgleuf het in die loop van die jare verskuif. Kleintyd was dit 6uur saans en ma dans met haar denkbeeldige dansmaat heen-en-weer- in die kombuis. En nou doen ek dit.
Soveel name rol deur my onthou. Jan spies, Madelein van Biljon, Jans Rautenbach, Kobus Robinson, Nick de Jager, Anna Neethling-Pohl, Charles Fortune. Musiek van Min Shaw, Ge Korsten, Pink Floyd, Neil Diamond en Groep Twee.
Wag-wag, hier roep ek halt.
2 Kommentare
-
Amanda
Esme en Jan. my ma was vasgenaal voor die radio. Sy kon nie wag dat hulle haar naam noem nie. Sy het vir Esme 'n kookboek gestuur wat hulle later op die program gebruik het. Edwil se program was haar gunsteling. Sy het gereeld iets gewen. Edwil het self Charles Jacobie se langspeelplaat kom aflewer. Hy is daardie dag weg met 'n plaas vol pampoene en vars gekweekte groente. Ai hoe verlang ek nou. So Skryf mens.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2019 projek