My kattekinders
Van kleins af het ek ‘n liefde vir diere gehad, honde en katte, maar veral katte. My eerste kat se naam was Witvoet, maar my oudste broer het hom herdoop na Oberholtzer. Hy was nie gesteriliseer nie en het natuurlik rondgeloop. Ongelukkig het hy ‘n aaklige dood gesterf op ‘n teerpad seker 4 kilometer van ons plaas af waar ons gewoon het.
Toe kom Petrus, ook ‘n swart en wit kat soos Witvoet, maar hy het baie langer gelewe, want hy is sommer al op ses maande gesteriliseer. Petrus het saam met ons getrek van ons plasie in Ladismith Kaap na Wellington en het daar by die tonnel se motorhawe “weggeraak”. My ma het opgelet dat Petrus nie in die motor of bakkie was nie en het net daar omgedraai om hom te gaan soek. Ons het Petrus tussen die magdom mense in die restaurant gevind.
Net voor ons van die plaas getrek het, het ek ‘n baie klein swart ”weggooi” katjie opgetel en in ons motorhuis met melk en brood skelm grootgemaak, want my pa het net een kat op die werf geduld. Hy het sy stem dikgemaak ek my laat verstaan dat ek die katjie moet weggee.
Ek het ‘n boksie vol gaatjies gemaak en vir Swarte Piet kilometers ver gery en vir werkers op ‘n naburige plaas gaan gee. Ek is maande later weer soontoe om te gaan kyk hoe dit met Swarte Piet gaan net op uit te vind dat hy elke aand op Oom Piet se skoot gaan le en slaap, wanneer Oom Piet voor die vuurtjie gaan sit.
Katte het gekom en gegaan na Petrus, maar my volgende “eie” katte was Daantjie en Doorsie, of Daniel Jakobus en Dorothea Christina soos hulle twee “gedoop” is. Hulle was ‘n boetie en sussie wat onder boomtakke in ‘n tannie se agtertuin vir ons weggekruip het. Ek het te sleg om tussen hulle te kies, toe neem ek maar albei. Hulle twee het groot geword in ‘n eenslaapkamer woonstel in Parow op die eerste verdieping en is bedags na die “cresh” na ouma geneem om daar in hulle agterplaas in Goodwood te speel. Daantjie en Doorsie het saam met ons getrek na ons eerste huis wat ons gehuur het en ook na ons tweede huis wat ons gekoop het. daar het Daantjie vermoedelik by iemand in die motor geklim en weggeraak. Doorsie in op gevorderde ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede.
Toe kom Koos die kat wat ek tussen motor onderdele in my broer se skrootwerf gevang het. Koos was ‘n swart kat met baie verstand, want wanneer hy oor die heining spring en Ben (die boerboel) jaag, dan gaan staan hy doodstil en dan weet Ben natuurlik nie wat om met hom te maak nie. Koos het ook ou bene geword, maar het kanker in sy kakebeen gekry.
Daarna het ek vir Houdini agter my werkswinkel opgetel, ek het gedink dit is ‘n hy, maar toe was Houdini ‘n sy, ek het haar en verskeie ander na haar met ‘n pop speelgoed bottel grootgemaak op ‘n mengsel van melk, een eiergeel en een teleepel olyfolie. Sy leef vandag nog. Toe kom Tom Jones in my lewe, hy het soveel persoonlikheid , maar het daarvan gehou om rond te loop en het weggeraak. Hy was maaar nog klein en niks ouer as ses maande nie!
Na Tom Jones was daar ‘n Sylvester wat weggeloop het na ‘n Engelse Tannie toe die buurvrou langs my intrek met haar drie honde. Sylvester bly vandag nog by die Tannie. Oliver Twist het van kleins af by sy bak gesit en het so sy naam gekry. Hy kuier nou hoofsaaklik in die karavaanpark waar hy sy tjops en wors kry en verseker hoenderboutjies steel, rou of gaar. Oliver of Ollie se sussie Betsie Boo bly vandag in die Kaap en sy was ‘n vasbyter, want sy het een Sondagoggend onder my ou Land Cruiser bakkie se enjinkap geslaap toe ek die bakkie aanskakel. Sy het afgespring en in die waaierband beland. nodeloos om te se sy het seergekry en haar operasies het meer as R6000-00 gekos, sy het vandag net drie bene, maar hardloop vinniger as enige kat wat ek ken en kan tot boomklim met die drie bene. Betsie bly saam met Misha in die Kaap by my vrou Carin.
Patat was ook ‘n katjie wat ek gered het en met die popspeel bottel grootgemaak het, maar het ook getrek toe die buurvrou met die honde intrek. Hy kom darem nog by my huis eet, maar wil niks van my weet nie! Lucky Luke het van die buurvrou by my ingetrek en so ook Miley Cyrus en Minkie van der Westhuizen wat abei twee swart katjies is.
Vaalkat Vlok is ‘n “coulor point” wat ek onder die indruk was dat hy ’n Siamees is, maar die vrou vir wie hy oorspronlik al die pad van tusen Calvinia en Brandvlei gebring is het dit gedink hy is een tot sy hom een oggend om 3h30 op my stoep afgelaai is.
Almal van hulle was en is vir my baie spesiaal en ek het ook die voorreg gehad om Tiger my vrou Carin se Main Coon te leer ken, hy was ongelooflik intelligent en het ongelukkig op die ouderdom van 16 jaar aan longkanker gesterf.
2 Kommentare
-
Kiekies
Ek het jou kattermaaie geniet. Self ook 'n katliefhebber.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2019 projek