Jongste aktiwiteit:

Loopdop Doep se Nasaat (Hoofstuk 3)

Dis Skippie wat opspring van sy stoel af.
“Gooi ‘n skoon een Sus…” gebied hy terwyl hy na my toe aankom.
Met sy een hand agter my nek en die glas ‘Skoon een” voor my mond maak hy my dit sluk.
My asem slaan weg en ek begin verstikkend hoes.
Duiker is dadelik by en slaat my met ‘n plathand so groot soos ‘n graaf agter op my rug, terwyl hy die glas uit Skippie se hand ruk en op die kroegtoonbank neer plak.

“Agge nee man Skippie! Is jy bedonnerd?”
Hy klap nog twee harde klappe.
“Wil jy die klong vermoor voor ons sy sake vir hom reguittrek?”

Skippie wat maklik ‘n kop korter as Duiker is, stoot sy bors uit en druk dit teen Duiker vas. Sit sy hande is sy sye en kap ewe ernstig terug.
“Dis jy wat die mannetjie amper moertoe praat man. Jy kan mos nou nie kom staan loslip wees en so die klong opfok nie.”

Sussa tree tussen beide.
“Nou sit julle altwee op julle se gatte en luister vir my!”

As Skippie se mond oopgaan lig sy haar vinger vermanend. Haar stem klap hom terug in sy stoel:
“Sit!”

Ek vee nog die trane uit my oë. Trek my brandasem, diep in. Ek merk nou vir die eerste keer daar is ‘n effense lispel in Sussa se esse.

Die woede bekruip my van diep binne af. Ek voel dit in my agterkop klop.
Ek weet ek moet nou myself beheer want dinge kan lelik raak.
Ek staan op. Trek my klere reg. Vee my hare uit my oë en kyk Sussa direk in haar oë.
Ek kan in die manier waarop sy na my kyk sien hoe sy in my oë kan lees dat ek nou tot enige iets instaat is.
Sy lig haar hand in ‘n afwerende gebaar voor haar. Maar voordat sy iets kan sê, vra ek met ‘n kil kalmte in my stem:
“Gee asseblief vir my nog ‘n koue draught.”

Ek bly staan terwyl ek vir die bier wag. In hierdie aand het daar meer met my gebeur as nog ooit in my lewe.
Hulle dolwe my hele bestaan en alles wat ek tot nou toe nog geglo het om en dan behandel hulle my asof ek ‘n kind is wat aan skok ly.

Sussa sit die draught voor my neer op die vuil plekmatjie.
Ek sluk die bier met lang stadige slukke so staan-staan af.

Nadat ek die leë glas weer op die matjie neergesit het praat ek met Skippie en Duiker. My stem is misleidend kalm en sag.
“Wat en wie dink julle is ek? Julle oorval my met inligting wat soos ‘n vreemde mens s’n klink. Die enigste ding wat vir my bekend klink is my pa se naam!”
Ek voel die frons tussen my oë intrek.

“Dan behandel julle my soos ‘n kind. As jy ….” Ek wys my vinger na Duiker … “my nie versmoor en my hare deurmekaar krap soos ‘n kind nie, dan forseer jy …” my vinger swaai na Skippie … “skoon drank in my keel af!”

Ek bly vir ‘n oomblik stil. Nie een van die twee sê iets nie. Hulle lyk soos twee verleë skoolseuns.

“Wie gee jou die reg om my ma so te beledig? Vir my te wil vertel sy is nie my bloedma nie. Jy weet nie eens wie sy is nie.”

Duiker gee my nie kans om verder te praat nie.
“Ek weet wie sy is. Sy was Netta Kotzé voor sy met jou pa getroud is. En’k dit weet want ek’s haar broer.”

Duiker se woorde plant weer ‘n steelhou op die krop van my maag. Ek gaan sit sonder bedoeling.

“Haar broer?” is my verbaasde reaksie. “Hoekom ken ek jou dan nie?”

Hy huiwer ‘n oomblik voordat hy voortgaan; “Want sy het my ontken as familie.
Vir haar was ek die skuim van die aarde omdat ek die see gekies het en nie ‘n graad nie.”

Hy raak doenig met sy sigarette. Skippie beduie vir Sussa om vol te maak.
Sy skink die dop en my bier en gooi vir haarself ‘n glas rooiwyn uit ‘n boks onder die toonbank.
As niemand praat nie vra ek; “As sy nie my ma is nie, wie is dan my ma?”
Skippie en Sussa kyk grootoog na Duiker.
Hy praat asof hy met niemand in besonder praat nie;
“Die storie van die sewe susters. Sy was die oudste van die sewe Kotzé Susters”

Die beeld van Pa en ek op die tuinbank, opsoek na die Sewe Susters in die sterre, kom dadelik by my op. Ek hoor sy stem asof dit gister was;
“Sien jy die een wat die duidelikste skyn? Dit is die oudste suster. Kyk of jy die sewende een kan kry.”
Ek kon nooit die sewende een kry nie. Dan het hy geduldig en met ‘n sagte stem gesê:
“Kyk mooi. Sy kruip so effe agter die ander weg. Sy is die skaam Sustertjie.”

Ek speel met my duim oor die druppels wat op die glas gevorm het. Die bier in die glas vergete.
My oë dwaal oor die ander drie figure in die vertrek. Elkeen op sy eie manier besig om die stilte te gebruik. ‘n Sluk en ‘n trek aan die sigaret tussen die vingers.
Sussa rook sulke lang, dun sigarette en drink haar bokswyn.
Duiker en Skippie teug afwisselend aan hulle dop en sigarette.
Dit voel vir my dit hou ‘n ewigheid aan. Hulle sluk en trek, sluk en trek. Dit laat die rook dik hang teen die dak.

My stem klink vir myself vreemd en onverwags toe ek die stilte verbreek.
“Wel, gaan iemand my nou vertel wat aangaan?”

Duiker kyk op na my asof hy my vir die eerste keer raaksien. Hy trek sy oë klein teen die rook terwyl hy die soveelste sigaret aansteek.

“Sy is eintlik jou tante. Jy is haar jongste Sustertjie se kind.”

“Wat het van my eie ma geword en hoekom het Pa ‘n vrou getroud wat nie van ons gehou het nie? Die vraag hang ontydig in die vertrek rond.

Skippie praat nou vir die eerste keer; “Bliksem man Duiker. Laat staan tog nou jou kak en vertel vir die Klong van a tot z waar hy en sy pa en sy eie bloedma inpas. En hoekom Loopdop Doep met ou Suurgat Netta getroud is.”

Duiker kyk gesteurd na Skippie maar vertel dan:
“Ek en jou pa was saam jongelinge op die see. Skippie se Oukêrel was ons Skipper. Skippie was toe nog net so, in-die-pad-snotneusie.
Ek het nooit plaas toe gegaan nie, want my pa, Ou Grootgert Kotzé, het gesê, tot ek die dag besluit om te kom boer, sit ek nie weer ‘n poot op die plaas nie.”

Ek sluk stadig aan die bier wat teen hierdie tyd al warm is. Hier krioel ‘n blik vol wurms. En ek is een van daardie wurms wat koersloos kruip.

“Voor jy … Oom … verder gaan sê my net, is my eie ma dood of wat?” vra ek vinnig.

Duiker vee sigaretas voor hom van die toonbank af. Kyk vir ‘n ruk na my in stilte. Sy oë lyk blouer as vroeër.
Sy hand maak ‘n skuur geluid as hy oor sy stoppelbaard vryf.
“Nee, Mater, jou ma is nie dood nie. Sy leef. En sy bly in die distrik. Al die jare nog.”

Weer ‘n keer kry Duiker dit reg om my ‘n verrassende skok te gee. Ek kyk dringende na hom. Duisende vrae storm deur my kop maar nie een vind sy pad oor my lippe nie.
Ek kan verseker vir myself sê dat ek nie vanaand vir Duiker, Skippie of Sussa gaan los, voordat ek nie die knope in my hart en op die krop van my maag los getorring het nie.




Deur woorde raak mense mekaar aan. Lees hou my gedagtes soepel om te kan skryf.

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed