DIE KIEWIET SE GEROEP
Roep die kiewiet klankloos in die wintersnag
swaai die Dennebome swierig boombas boudjies
in die ysbevrore gebarste vingers van die wind
terwyl ‘n Rubberboom se takke ritmies
tussen al die stadsgeluide kraak
Verdorde skimme van gister
gly astrant oor vandag se toonstamp paaie
en vervel gewetes van mensgedagtes in die nag
terwyl die golwe van die wilde oseaan
eentonig teen ‘n vasgemeerde bootjie klap
en die kiewiet klankloos in die wintersnag bly roep
Die kiewiet roep ritmies klankloos na my hart
gelei deur die nag se dowe dirigent
roep na my waar hy tussen die langgras
by die plaasdam dwaal
roep na my
om saam met hom en die dowe dirigent
die nag te streel tot slaap
…Dan sit ek maar die ligte in die voorhuis af
dra my dag se dor woestyn gedagtes saam bed toe
en trek die vergeet duvet
van die kiewiet se klanklose stil geroep
teen my neusbrug vas
wetent die kiewiet en sy dowe dirigent
het ure terug gaan slaap
2 Kommentare
-
Timothy Timmie De Vos Botha
Hallo daar ! Pragtige stukkie skryfwerk, ek hou van hoe jy die kiewiet beskryf in hierdie gedig, puik verwoord Louie !!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Dit is n pragwerk Louie. dit is mense se alleentyd as jy in die bed klim