Jongste aktiwiteit:

Die reuk van vars ink

So kruis my pad onverwags ‘n vroutjie van 85 wat brei en blokkiesraaisels invul en daagliks 4 km stap. Ongelooflik. Dat ‘n mens jou kop so jeugdig op so ‘n ryp ouderdom kan hou. Sy beduie dat dit genade is dat sy, alhoewel nie altyd gesond nie, gewoonlik besig kan bly en sodoende nie tyd het om oor die ouderdom en skete te tob nie. En dit wat sy brei verkoop sy nie, maar gee vir vriendinne en minderbevoorregtes. Terwyl ek haar so liggies pols of sy haarself met nog iets besig hou, glimlag sy. Sy het penvriende. 103 van hulle dwarsoor Suid-Afrika. Met hierdie een sin het sy my volle aandag.

Penvriende …?

Dit voel asof dit uit ‘n wêreld baie ver van die moderne mens se bestaan is. Iets wat uit jare gelede se dae kom. Om ‘n skryfblok en pen uit die laai te haal en by ‘n tafel te gaan sit en ‘n brief te skryf. Om die reuk van vars ink op papier te ruik en die gekreukel van die papier onder jou vingers te voel. Om na die posbus op die hoek te stap en die brief te gaan pos. Om na jou eie posbus toe te stap en iets anders as rekeninge te verwag. Wat ‘n wonderlike gedagte!

Terwyl sy gesels oor hoe hulle rekord hou van wie wanneer ‘n brief ontvang en gepos het, wonder ek hoeveel mense nog penvriende het. Waar jy die epos opsy skuif en gaan sit en ‘n lekker kuierbrief skryf. Waar jy die nuutste nuus op geduldige bladsye uitblaker en hier en daar ‘n geheim mag uitlap.

Ja, die risiko dat jy nie ‘n brief gaan kry nie bestaan wel, verduidelik die bejaarde vroutjie met ‘n vonkel in haar oë. Maar omdat almal rekord hou van wie wanneer laas geskryf het kry jy oproepe van mense wat na jou welstand verneem – juis omdat hulle in ‘n geruime tyd nie ‘n brief ontvang het nie. En so hou almal ‘n oog oor mekaar, sonder dat hulle waarskynlik ooit ‘n oog op mekaar sal lê.

Met 103 penvriende wat sy oor die afgelope 20 jaar versamel het, skryf sy gemiddeld een brief op ‘n dag. Ek wonder heimlik hoe ek gaan weet wat ek wanneer vir wie geskryf het, maar blykbaar kry sy dit steeds op so ‘n hoë ouderdom reg. Dit is ook nie net bejaarde mense wat haar penvriende is nie, sommige mense is jonk met skoolkinders. Dit is wel ‘n uitdaging om skryfblokke in die hande te kry en die posdiens laat veel te wense oor. Dit laat haar egter nie van stryk bring nie – net soos die res van haar penvriende dwarsoor die land.

Die reuk van vars ink




5 Kommentare

  • neels claasen

    soos altyd n plesier om jou werk te lees Karin

  • Evelyn van der Merwe

    Iets wat die tegnologie in sy spore of dan ink gestuit het. Dis jammer want deesdae is dit slegs kort, eintlik niksseggende woorde in plaas van die regtig omgee en aandag skenk wanneer die die vel papier en pen voor jou lê en jy eers 'n draai deur die roostuin stap om kop bietjie skoon te maak en dan met skryfwerk hervat.

  • Toom

    Lank gelede het ek gelees van agt vriendinne wat ná die skooltyd ver uitmekaar getrek het, maar besluit het om ,kontak te behou'. Hulle het 'n ,aanstuurbriefstelsel' gehad -- nie uitgedink nie, dit het skynbaar eenvoudig so ontwikkel: Anna het aan Bets geskryf en die aan Clara en het sommer Anna se brief bygevoeg. Clara het altwee briewe ingesluit in haar brief an Dorit... Toe dit eindelik by Hanna uitkom was dit 'n magtige klompie skryfwerk! Die het Anna se oorspronklike brief behou en almal het bietjie kleiner geskryf op fyner lugpos-(onthou nog?)-papier. Toe ek daarvan ervaar, was dit al bejaarde dames. En die ,rondbrief' het nog altyd sy rondte gedraai. En ek, ek was te lui of te dom of te parmantig, of aldrie, om dit na te doen. So 'n briljante gedagte mos, nè? GvT

  • Koekekranka

    Nou verlang ek intens na die dae van posseëls en koeverte lek! Nostalgies verby!

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed