Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Loopdop Doep se Nasaat (Hoofstuk 5)

Deur Christo
Datum gepubliseer: 8 April 2016 Aantal woorde: 2305 1029 Kere gelees 11

Ek ry ingedagte huistoe. Dis amper of die bakkie self die pad huistoe ry.
My oog val kort-kort op die boek wat langs my op die sitplek lê.
Ek het nog nie die moed gehad om dit oop te maak nie. As ek na die dikte van die boek kyk, lyk dit of Ma vir haar lewelank dagboek gehou het.
Aan die eenkant is ek nuuskierig om die inhoud daarvan te weet, maar aan die anderkant is daar so effense vrees vir dit wat tussen die blaaie vir my wag.

As ek in die straat afdraai huistoe, val ‘n ou geroesde groen Datsun 1200 bakkie, wat reg voor die huis geparkeer, staan my op.
Waar die roes nie al die verf bruin verkleur het nie, lyk dit of iemand sommer die bakkie met ‘n handkwas geverf het. Grasgroen, oneweredige strepe.

‘n Persoon, kort en fris van postuur klim uit die bakkie en maak vir my die hek oop. Die frons tussen my groen oë is diep en groot tot ek vir Skippie herken.
Die gedagte waar hulle my adres gekry het spring deur my kop vir ‘n flietende oomblik. Maar dan onthou ek dat Pa en Ma al die jare in die huis gebly het. En Duiker sou seker weet waar dit was.

Ek wuif in die deurry van die hek vlugtig vir Skippie. Ek het hulle nie hier verwag nie en ek kan ook nou nie eintlik sê dat ek hulle hier verwelkom nie.
As ek uit die 4x 4 klim en omdraai staan nie net Duiker en Skippie daar nie, maar ook Sussa.

Hulle staan in stilte. Groet nie en dit voel vir my die drie pare oë brand gate in die boek onder my arm.
“Dit lyk my in hierdie geweste groet mens nie as jy ongenooid by ‘n man se huis opdaag nie.” Verbreek ek die stilte.
Dan draai my kop van die een na die ander en ek kyk hulle vas in die oë.
“Môre Sussa, môre Skippie, môre Duiker. Waaraan het ek hierdie besoek te danke?”

Ek raak weer bewus van Duiker se groot lyf. Hy trap ongemaklik rond en kyk na Sussa.
Dié skud net haar kop en beduie met haar oë iets wat net die drie van hulle verstaan.

“Het jy dop in die huis?” vra Skippie. Seker maar net om iets te sê.
Ek antwoord ontkennend en Duiker vul aan:
“Dan moet jy die bar gaan oopmaak Sussa.”

As antwoord pomp Sussa vir Duiker met die elmboog in die sy.
“Dit is my afdag Duiker en jy weet dit. En jy gaan nie weer die kind met jou dronkgat twak gooi nie.”

Duiker snerp verergd terug; “Ek wil niks sê nie, ek wil weet watse donners boek hy daar onder sy arm het.”

“Dit het niks met jou te doen nie Duiker.” Sussa probeer sag praat. Die rookskade aan haar stembande gee dit ‘n lae toon.

Daar daal ‘n kalmte oor my. Dit het eintlik alles met Duiker te doen, dink ek.
Ek is seker hy het net soveel om uit te vind soos ek. Ek het afgelei dat hy nou reeds jare geen kontak met sy familie het nie.
Moontlik is daar inligting in die boek wat hy ook moet kry.

Die rustigheid slaan deur in my stem as ek geduldig met Sussa praat;
“As jy nie omgee nie Sussa kan ons maar kroeg toe gaan. Ek sal graag met julle wil deel wat met hierdie boek aangaan.”
Ek verswyg die feit dat Ma dood is. Hoekom kan ek nie sê nie. Ek sal dit vir hulle vertel as ons rustig in die kroeg sit. Dit is nou te sê as die drie rustig kan raak.

“Een van julle kan saam met my ry. Dan sit julle nie so ongemaklik nie.” Stel ek voor en dit is Skippie wat omstap en voor langs my inklim.
Sussa verkies seker om saam met Duiker te ry om hom eers weer die leviete voor te lees.

Nadat Sussa die kroeg se deur weer agter ons toegesluit het stap sy agter die toonbank in om vir ons elkeen ‘n dop te gooi.
Dan kom maak sy seker die oppervlak van die toonbank voor my is skoon en droog sodat ek die boek kan neersit.
Nou kom sit sy tussen ons met haar glas rooiwyn.

Ek wag dat hulle, hulle gebruiklike sigarette brandmaak. As aldrie afwagtend na my kyk sê ek sonder omhaal van woorde; “Ma is dood vanoggend”

Daar is geen teken van berou of skok nie. Skippie lig sy glas;
“Op ou Suurgat Netta.”
Duiker en Sussa volg sy voorbeeld en hulle sluk diep aan die inhoud in elke glas.

Duiker vee, soos dit sy gewoonte is, sy mond met die agterkant van sy hand af. Trek skreef oog aan sy sigaret.

“Hierdie is Ma se dagboek. Sy het gesê ek moet dit lees. Ek neem aan dat al die leuens wat ons gelewe het hieruit opgeklaar sal word.”

Ek trek my wenkbroue hoog op. Sug diep voor ek ook my dop inbreek met twee, drie lang slukke.

“Sussa sal jy vir ons lees wat hier aangaan?” Met onuitgesproke begrip hou Sussa haar hand uit na my toe vir die boek.
Sy blaai die boek oop, byna met respek. As sy begin lees is daar ‘n rustige deernis in haar stem te bespeur.

“Hierdie is die dagboek van Janetta Margareta Louisa Kotzé. My weë en wandel sal hier opgeteken word vir net my eie oë se insae vanaf vandag 19 Augustus 1972.”

Dis Skippie wat ongemanierd deur sy neus snork;
“Gmpf! Weë en wandel!” grinnik hy sarkasties. “So was sy mos altyd te grênd en opstêrs vir die gewone jongetjies”

Hy sluk sy glas leeg met die groot ongeskikte slukke. Staan op en gaan maak sy eie glas weer vol.

“Wil een van julle nog iets hê terwyl ek hierdie kant is?” vra hy grimmig.
Duiker stoot sy glas oor. Sussa wag tot hy klaar is voordat sy verder lees.

Sy neem die saak ernstig op. Dit klink of sy haar verbeel sy lees die oggend boekvoorlesing op RSG voor. Met stembuiging, tussenposes en stiltes tussen in.

“Ek het gisteraand 18 Augustus 1972 die man van my hart se drome ontmoet by die kerk se koffiehuis. Hy laat die sterre in my oë los. Laat my bloed soos riviere in vloed bruis.
Maar … daar is altyd ‘n maar. As ek hom huistoe gaan nooi sal hy nie tweekeer weer na my kant toe kyk nie. Want daar is Babbels. Die altoos nimlike een met die dimpel-wang-glimlag as sy haar kop kwansuis onskuldig draai en haar oë guitig vir die mans flikker.”

Duiker se stem is grof van weëmoed as hy Sussa se voorlesing onderbreek;
“Babbels, my liewe, jongste Sustertjie.”

Die besef van wat Duiker sê ontspring in my soos ‘n fontein in dor aarde. Sy jongste susterjie is my bloedma! Hierdie “Babbels” is dus my bloedma!

Wanneer Sussa weer begin lees klim my aandag saam met haar die boek in en ek volg elke woord soos ‘n honger kind.

“Ek sal nou maar gereeld na die besigheid toe gaan al voel ek dit is tydmors. Die jongetjies wat daaruithang hou vir hulle so vroom, en dit kan tog sò vervelig wees.”

Sussa rol haar oë asof sy persoonlik die ervaring het.
Sy lees onverpoosd voort.

“Die pragtig man met sy sterk bene en breë skouers het my verseker hy gaan elke Vrydag daar wees.
Oooee en het hy nie ‘n ewe sterk naam nie! Dirk Bruwer!”

Hierdie keer stap Duiker agter die kroegtoonbank in. Terwyl hy besig is om vir ons almal ‘n volgende rondte te gooi sê hy verveeld vir Sussa;
“Agge nee my fok man, Sussa. Moet jy nou al daardie soetsappige kak lees. Ek is seker die klong wil dit nie hoor nie.”

Sussa kan haar man staan teen hierdie harde man met sy ruwwe seehart.

“Wie is jy om vir hom te besluit jou ou droë knol?”

Ek weet as ek nie ingryp nie gaan hulle nou eers weer vir ‘n halfuur stry.

“Dis reg Sussa. Lees maar net die stukke waar sy oor Babbels skryf.”

Met verwondering kom ek agter dat ek na “Ma” as “sy” verwys.

Duiker kyk verras na my. So asof hy nie verwag het ek gaan uitwerk dat Babbels my ma is nie.

Terwyl Sussa in stilte lees wil Duiker by my weet:
“ Het sy iets gesê voor sy dood is” Ek kan die bitterheid in sy stem hoor deurskemer. Ek hoop dit staan in die dagboek hoekom hy so bitter is teenoor haar.

Sussa is byna opgewonde as sy van die boek af opkyk:
“Wag, wag hier vat sy nou vir Dirk huistoe om haar ouers te ontmoet.”

Ek skud net my kop om Duiker se vraag te antwoord terwyl Sussa weer in die radiostem begin lees:
“Sondag 22 Desember 1972 – Ek het vir Dirk plaas toe genooi vir Kersfees en ook om vir Vader en Moeder te ontmoet.
Dit is nou reeds 4 maande dat ons mekaar in die dorp sien.
Groot was my verbasing dat Babbels geen indruk op hom gemaak het nie. Ek het eintlik die indruk gekry dat hy haar as ‘n lastige kind beskou toe hy vir haar gesê het dat sy nie saam met ons piekniek by die dam kan gaan hou nie.

Hy het nog nie in daardie rigting gepraat nie maar ek kry die gedagte dat hy my om my hand gaan vra.”

Sussa soek na haar sigarette en merk ewe droog op;
“O shit hier kom ‘n ding.”

Skippie wat tot nou toe stil was sê; “Moet asb net nie ons lees hoe hulle vry nie. Ek wil dit not a donner hoor nie”

Sussa trek haar vinger oor die lyne van die netjiese handskrif met ‘n ligte krul in die laaste letter van elke woord. Op soek na die sensasie wat ons almal verwag.

Sussa se “A ha!” onderbreek ons ander drie se gedagtes waar dit in stilte op eie spore geloop het.
“Wat?” Wil ons aldrie gelyk weet.

“ Hulle het nou verloof geraak en Babbels hang aan sy arm terwyl sy hulle gelukwens.’

Onwillekeurig merk ek hardop op:
“Dit klink my hierdie Babbels was ook maar ‘n ‘n klein flerrie want …”
“Hey, hey, hey … “ val Duiker my in die rede.
“Jy praat nie so van my sustertjie nie. Sy was glad nie terterig nie. Dan eerder die hoogdrawende drama queen, Netta.”

Die bier is bitter in my mond en as ek oor my lippe lek proe ek die rook wat in die vertrek rondhang.

Sussa lees weer in stilte. Die verlowing was nou nie vir ons so groot gebeurtenis as vir haar nie. Maar ek wou mos hoor daar waar sy Babbels se naam raaklees.

So tussen die lees vat Sussa klein ingedagte slukkies van haar wyn.
Hierdie mense se drink kapasiteit verstom my. Dit voel vir my of die liters drank wat hulle verorber geen invloed op hulle het nie.

Maar ek kan nie eintlik iets van hulle sê nie, want hier sit ek buite my aard in die middel van die week in ‘n kroeg en is besig met my derde draught vir die oggend.

Sussa wip regop. Steek ‘n vars sigaret aan. Sluk die laaste wyn in die glas af.

“Ek het julle gesê hier kom ‘n ding.” Vertel sy terwyl sy haar eie glas volmaak en ook vir die res van ons sorg.
Hulle vra nie meer nie. Gooi net.

“Nou gaan jy ons nou in suspense hou tot kreeftyd toe?” wil Skippie ongeduldig weet.

“Ek rek net eers bene Skip. Lees self verder as jy dan nie kan wag nie.”

Skippie mompel in sy glas terwyl hy sluk; “… ook maar fokken lekker bedonnerd”

Sussa skud die woorde wat hy oor haar strooi van haar skouers af en maak of sy nie die afwagting agterkom wat sy by ons geskep het met haar opmerking nie.

Eers as sy haar lang sigaret rustig klaar gerook het en haar wynglas op getop het begin sy lees:

“26 Mei 1973 – Ek is verpletterd. Die donker in my hart hang soos die dood, lanfer om my heen. O hoe kon hy? Hy het my dan sy ewige liefde belowe toe ons twee maande terug verloof geraak het.
Maar nee! Ek is seker hy was slegs ‘n slagoffer in haar kloue!”

Duiker stamp sy vuis op die toonbank. “Ag bliksem! Die vroumens is langdradig. As ek ou Dirk was het ek nie twee keer na haar gekyk nie.”

Skippie praat tussen die slukke en die rook saam:
“Ja, as ek hy was het ek lankal ‘n ander goose gespyker. Hy het seker niks by ou Netta gekry nie.”

Sussa lag hardop; “Wag nou julle twee, julle loop die storie vooruit. Ek lees verder.”

“Ek kan nog nie glo wat ek met my eie oë moes aanskou agter die duin tussen die fynbos nie. O die vernedering! Op ons eie piekniek kombers! Daar kom hy die ander vrou by. Albei kaalgat in die oopte! So sonder skaamte!”

“Ja nee!” is Duiker se enigste reaksie.

Sussa lees voort:

“Ek kon nie wegkyk nie. En dis eers toe hulle klaar was en hy afrol dat ek sien dit is my eie suster – slet Babbels, wat my verloofde verlei het.
Ek moes dit geweet het! Ek moes dit sien kom het. Ek moes raak gesien het hoe sy haar strikke vir hom stel.
Kan die dood my nie maar kom haal nie? Of nee wag! Ek sal haar terug kry. Ek sal alles van haar af wegsteel wat vir haar dierbaar is. En ek sal vir haar teenspoed en skade en skande veroorsaak haar hele lewe lank.”

Dis doodstil in die kroeg. Die sluk en trek geluide, glase wat kontak maak met die toonbank, kroegstoele wat kraak, waak gewyd in die oomblik van skokkende openbaring.

© Zymrly April 2016




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Desiréé

    8 April 2016

    Hierdie arme man voel seker of die hele wêreld soos hy dit geken het, nou op sy kop staan.

  2. neels

    10 April 2016

    Zym dit is n aangrypende verhaal hierdie

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 36

Deur woorde raak mense mekaar aan. Lees hou my gedagtes soepel om te kan skryf.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 104 gaste aanlyn

Bydraes – Argief