Mammie, nes jy dit sou wou hê
Mammie, vanmôre toe daai werfbaaskapokkie van jou
met sy koperstertkrulle en ver hoor snawelbek,
vre-e-e-e-ede vir ju-u-u-u-ulle!
dit driemaal uitkraai,
het ek ñ bos Gerriehoeke nog blinknat gedou
weer gaan pluk, Mammie, net vir jou.
Want gister my Ma, het ek jou bal en klou
weer Kobrablink gepoleer
en so tussendeur jou witduiwe se gekoer
jou Kenya-koffiepitte ( nog dig verseël )
versigtig gebrandmaal tot moer
tot die wonderlike geur, gul, heel jou kombuisie vul.
En nou dek ek nes jy, jou Boekevattafel met puntenerige sorg –
jou wit damask en fyn porselein terwyl my siel as borg,
soos kleintyd as jy sawens by my lê,
ek weer ‘Jesus min my salig lot’
al agter jou sagte stem aansê.
Want as vanmiddag die aarde, sy, aan jou geleende stof
weer terugneem,
kom al jou geliefdes, Mammie, hier bymekaar
om jou sielevreugde sonder snik of ween
( die snoer van jou lewe)
te koester soos reën.
En nou Mammie, met my mooiste rokkie aan
en jou troupand flonkerend aan my bewerige hand,
is ek glimlag-gereed –
want dis hoe jou hart Mammie,
dit sou wou hê dat ek adieu, my Ma,
adieu aan jou moet sê.
©Elizabeth Greef
4 Kommentare
-
-

Evelyn van der Merwe
Uitstekende ode aan 'n Moeder en 'n regte tranetrekker.
-

Arnold
Hoe het my ouma altyd gesê; stort die traan tewyl ek nog iets vir jou kan doen... Goed verwerk.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
hoendervleis mooi. Pragtige ode en totsiens aan jou moeder wat my met hartseer vul...