Mams, ek verf vir jou ‘n sonneblom
Die vrou in die kiekie
was jonk…. en mooi
so slank en modieus
vol selfvertroue, grasieus
dalk was haar rok donkerrooi
– of dalk net so ‘n bietjie
sy was my mammalief
met oë wat sag kon lag
waarin kommer soms sou huiwer
soos blare in ‘n storm
onrustig, soekend op die grondpad
as sy vir ‘n kind moes wag
en toe silwer met die jare
soos sneeu weef deur haar hare
haar oë dowwer word
van al die stormwindblare
haar hande vlekkerig, geplooi
was sy steeds vir my mooi
sy het lank reeds weggegaan
waar stormwinde nie bestaan
vry van kommer en van pyn
maar leef voort in my herinnering
in ou vergeelde kiekies
en in die wysies wat ek sing
*********
Mams ek verf vir jou ‘n sonneblom
my kwas gedoop in die goue son
‘n soetdoringboom van geel fluweel
‘n madelief in warm kaneel
ek bring vir jou ‘n gerfie blou
gepluk uit die stert van ‘n mannetjiespou
bymekaargebind met ‘n stukkie tou
mams, om te sê hoe lief is ek vir jou
Estelle Rubow 2/10/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.