Mindermens
sien die man met bakhand,
bewe, hoof gebuig
en oë neergeslaan
mompelvra vir aalmoes
met die wete
menswees word gemeet
aan meer as wat hy het
die mindermens draai om,
kruppel weg op voete
bloedgeloop, geskoei
in nuwe flenterskoen,
gedagtelose uitskot
van ‘n tronkpaleis
wat hy nie eens in drome ken
en my herinneringe vliet
en haal uit donker dieptes
van my siel die beelde
van ‘n oubekende self,
die nagte onder nuuspapiere
voete wat oor klippe brand
deur sole lankal
onbestand teen skuifelgang
van skaam se loop
om weer te vra
die silwerklingel
vir ‘n honger stukkie brood
die skerp afwysing,
spot, die lag
en tart die kil veragting
soos die sweep se bitter slag…
maar die wonde is onsigbaar
dieper letsels op die siel gelaat
wat nooit weggaan
nooit verdwyn nie
bly dit as ‘n vingerwysing
na die mense woord se mag
wat ‘n man wat eendag mens was
dag kan omkeer
tot die swartste nag
en ek wonder hoe dit ooit gebeur het
dat die mindermens
vertrap verstote
uitgespoeg deur die masjien
van mensegang
en werk en wandel,
randfiguur, ontken, ontsien
eendag opgestaan het
uit die Rommel
van ‘n flentergang bestaan
weer kon opkyk
voorkyk aanstryk
en kon weet waarheen hy gaan?
©24/10/2010 Anton Bosch
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
So subtiel die aanklag op die "masjien van mensegang" en die onverantwoordelike omgang van mense met woorde. Watter triomfantlike einde, wat jou leser laat om self die antwoord op hierdie retoriese vraag te gee. Wil ek persoonlik uitroep dis net genade op genade! Dis 'n fenominale stuk werk waarin jy die leser wys op die broosheid van die mens en tot watter ongelooflike lae dieptes hy kan val. Kyk net hoe pragtig stel jy dit met "menswees word aan meer gemeet as wat hy het." Die skrywer laat jou wonder of die "mindermens" wel die aalmoes ontvang het, dan let jy op die "nuwe flenterskoen." Direk daarna volg die terugblik op eie verval tot op die selfde vlak van verwerping, miskien selfs laer. Die meeleef van vernedering en veragting. Hy ken die mindermens se omstandighede. Dit laat 'n beklemming en angstigheid by die leser opkom om amper te vra: "Was jy, wat hier aan die vertel is, werklik daar? Was jy werklik in die omstandighede vasgevang?" Asof die verteller dit beantwoord:"wat ‘n man wat eendag mens was dag kan omkeer tot die swartste nag." As leser sien jy hoe hy weer kon opstaan en opkyk en voortgaan met 'n doel. In die mooiste nederigheid staan die "mindermens" wat nou 'n "meermens" is in verwondering van die genade wat hom opgetrek het. Hom betekenis en doel en menswaardigheid teruggegee het. Dit is 'n stuk werk waarin nederige waardering soos 'n stil gebed van dank in die laaste lyne van die laaste strofe bykans onhoorbaar gefluister word. Die werk is 'n dankoffer wat die nederigheid van die verteller uitbasuin.