My bastion
in die donker dae
toe my asem stom
(soos kameelboggels)
in my oë gehang het,
het jou omgee en
stil verstaan
soos ‘n Josefskleed
om my gevou
toe die aasvoëls
se aanhoudende gepik
my uitmekaar wou skeur
en hadidas se stemme
my mal wou maak
het jy ystermure
om my broosheid
gebou
deur stormwinde
wat riete in my pols
wou knak en buig
het jy deur die git
van my hartsmandjie
gebreek en saggies
vir my nuwe vlerke
gekweek
jou wese is my bastion
want in jou stilte
het ek my vrede
gevind en
in jou palms
die wonder
van ons toekoms
gesien
© Anzé Bezuidenhout
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Francois Meyer
Lieflike beelde! Baie mooi verwoord!