My somervrugte (BRONS)
my mandjie bars bont
met somervrugte
sappige soetsels
gebore uit lentebloeisels se pastel
nóú kleurwiel baldadige bolwange
in natuurspens se palet
luukse pluksels
wat my sintuie van sonseën en reën vertel:
onder poeierwange van pruime
lê blinkpoets se purper
songoud nektarienvliesies
spog bespat met vermiljoenblos
die handvol aromaryp piesangs
lê lepel in gesproete geel
een spanspeksfeer se koraalvlees
is tartend versteek onder dikvellige vaal
ʼn tandem tandknarsappels
skree saam in skelgroen
my versadige mandjie gekroon
met ʼn dragtige druiwetros
watertandgeskenke
uit die gul groeiseisoen
ʼn skatkis sierade
wat my somerlus suikersoen
Etna Wepener ©️
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek