
’n Berghang met uitsig (’n brief aan Shirley van Engeland)
Shirley,
ek sit hier op ’n bankie
in die hart van die Klein-Karoo.
Dis vroegdag.
Ek tuur oor vaalgroen velde –
bome, bossies en gras.
Die hemel is aan’t blou raak
soos daardie tyd
toe jy nog hier te vinde was.
Dis teen Gamkaberg se wang
waar ek nou my tyd verwyl.
En iewers op die vlakte
blêr ’n skaap
(so ég Karoo in styl).
’n Bokmakierie en ’n bottergat
klank lustig in ’n koor
(en ek wens jy was nou hier
om dit self te sien en hoor).
Die wind is net ’n roering,
die oggendlug is koel –
selfs nóú
terwyl die son se strale
oor die koue van ’n klipkrans spoel.
Daar oorkant
lê die Swartberg;
ek weet haar skaduhang verlang
na die amber lig wat aanstons
teen haar donker sy sal vlam.
En my bankie het ’n uitsig
oor hierdie oord wat dors na water
(hoe bitter is die droogte, hoe ongenaakbaar fel)
maar later sal ek meer daarvan vertel.
Shirley, ek groet jou
hier, vanaf my Kannalandse stoep.
(Ns. Gister het ek weer
met Tierkloof langs geloop
en in die stil verlatenheid
…jou naam geroep.)
© Carma Shaw
24 November 2018
10:32
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Sjoe, dit is 'n ongelooflike gedig hierdie. Die geselstrand in eenvoudige woorde omskryf 'n landskap wat jou gemis weerspieel.