
‘n Gumtree-verhaal
Agter ‘n ad op Gumtree (of enige smalls)
lê daar soms iets groter
as die vierkant sentimeter –
die blok met die foto’s wat
onpersoonlik niks meer wys
as die produkte in die mark:
soek iemand dringend geld,
is alles dalk oorbodig,
of is dit ‘n onthou wat
bloot ondraaglik is?
So kom daar ‘n advertensie
oor ‘n ou karavaan en niemand sou
weet van die jaar se bou
tot laat in die nag en die
bloedsweet van herstel sodat
die ding net nog ‘n bietjie hou.
Want sien, voor dit was daar die tent –
‘n entry level soort, met nog ‘n groter,
hoër een daarby, want toe die slaaptent
die eerste keer staan, stamp ‘n kop,
word gesnou “Ek haat die fǿ××en tent”
na maande se werk om alles reg te kry –
byna soos ‘n huis, sodat almal lekker bly.
So begin die vakansie soos tevore
op ‘n helder Kersfeesnoot ,
soveel dae se dikmond op die strand
(wens vir ‘n rit ver op dóérie boot) –
soveel ek wil nie, soveel ek gaan nie,
soveel ek’s nie lus nie, die rye
is hopeloos te lank by die ablusie
en dis rusie op verdomde rusie.
Toe’s daar opgradeer na ‘n meneer
van ‘n tent, ‘n regte army-seil wa met
‘n yslike dome en ‘n saal langs die kant.
(Die kind slaap neffens in die ouer tent.)
Maar daar is karavane reg rondom en
almal sien neer op die armgat vent,
Mother Hubbard wat bly in ‘n tent.
Vandaar die karavaan en ‘n nuwe begin –
nou gaan hulle chill en rustig raak.
Dan sê sy weer voor en hy’s bang vir verloor.
Sy wil net haar sin hê en hy is baie goor.
Na elke vakansie word gedreig die gedrog
word vir liefdadigheid gegee of dalk verkoop.
‘n Ruk lank is daar vrede, beloftes dat
dit hierdie keer net lekker sal verloop.
Maar niemand sal weet
wat het toe gebeur –
hoe klein is ‘n plekkie
op ‘n bed in die hoekie
van ‘n karavaan,
hoe erg is dit om gyselaar te wees
in die tronksel van ‘n huis
wat op wiele staan,
‘n kampterrein, ‘n kusdorp,
‘n hele bestaan.
Niemand sal die vrees ken van vasgekeer
skuil, daarom word die spul nou geadverteer –
jy kan jou vrede sommer daarvoor verruil.
Skakel asseblief die nommer of stuur ‘n e-pos –
kry net ‘n gees van hierdie nagmerrie verlos!
Charleine Collins © 29 Junie 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.