‘n klip kan ook breek
Die oggend breek met kolgansroep,
‘n hond wat blaf, ‘n duif.
En daeraad se eerste lig
wat skroomloos oor die oosberg skuif.
O was ek maar ‘n sonnestraal
wat so ligvoets oor die land kan wals:
sonder huiwer, sonder bang,
sonder terug verlang na dit wat was.
Ek klou verbete aan my gisters vas.
Kon ek maar net die bande breek
wat my gevange hou;
met snelle pas vooruit beweeg,
my grense met gemak oorsteek.
Maar inherent is ek meer klip;
daar waar ek val, daar bly ek lê –
vol potensiële energie,
maar – lontloos – van die vuur ontsê.
*
Dag breek met veersag wolke;
skakeer in goud en pienk en pers.
En met die eerste aarselende woorde
van hierdie tentatiewe vers.
© Carma Shaw
7 Maart 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2018 - Digkuns projek