Jongste aktiwiteit:

ʼn Muisvanger vir Bantjiesstraat

(Woordtelling: 1539)

Guppy is seker die wêreld se onmededeelsaamste hond. Buiten vir haar ma en ander huisgenote, deel sy doodeenvoudig nie haar spasie met enige ander wese wat op sy eie kan beweeg nie. Die voëls maak nie so baie saak nie, behalwe vir die Hadidas. Die arme ding word bekruip en gejag, maar genadiglik was die voël te groot om in haar bek te pas. Die duiwe is egter, tot ons spyt, nie so gelukkig nie.

Maar op hierdie stukkie grond dra sy egter ʼn kroon met die yslike Cullinan diamant daarin, so al asof sy ʼn direkte afstammeling van die Britse Koningshuis is. Haar werf, haar koninkryk. Hiér is nie plek vir ander diere nie. Sy was nog pure baba toe die veearts ons gewaarsku het dat, “sy nog vir ons moeilikheid gaan veroorsaak”, heel waarskynlik omdat sy hom amper gebyt het en hy homself liederlik vererg het. Wat “fout” was met die man, sal g’n mens weet nie, maar Guppy het verseker nie van hom gehou nie. Dalk was dit omdat hy voorgestel het dat ons haar liewers moet laat uitsit. Haar beskermingsdrang is wel effe oordrewe, maar is dit werklik genoeg rede om haar voortydig oor daardie reënboog bruggie te laat stap? Mens sit mos nie ‘n hond uit net omdat sy kwaai is nie? Hierdie was ook die enigste veearts in daardie praktyk vir wie sy ooit tande gewys het, al het haar reputasie haar ver vooruit geloop. Enige van die ander veeartse kon haar met versigtigheid en respek ondersoek, maar nie hierdie man het sy nie naby haar verdra nie.

Guppy se jagtersinstink is ingebore en maak nie saak wat ek probeer het nie, jy kan nie so ‘n eienskap uit ‘n dier uit-wens of uit-baklei nie. Dit is net daar, en as ‘n ding hardloop, sál sy hom jaag en vang. Die enigste wat ons van haar honde-ouers geweet het, was dat die reun nie nonsens geduld het nie. Hy was ‘n jagter van formaat en al die skelms in die omgewing het dit ook geweet.

Ewenwel, op ‘n dag, terwyl ek rustig staan en skottelgoed was, sien ek haar om die hoek van die huis gedraf kom. Daar hang ‘n pragtige wit, sagte trui in haar bek – of so het ek met die eerste oogopslag gedink. Hoé sy iemand se trui in die hande kon kry was ‘n ope vraag, want ons erf is omhein met ‘n hoë muur en stewige hek. Ek kon sien dat dit lieflik sag is, en nogal groot want ten spyte van die feit dat Guppy hoog op haar bene staan, het hierdie trui albei kante byna op die grond gesleep.

Groot was my ontsteltenis toe ek ontdek dat hierdie “trui” in werklikheid ‘n konyn is. Heel onwettig het die bure van skuins oorkant besluit hulle gaan hul eie kos produseer – groente én vleis. Een van die konyne het dan seker uitgeglip en per ongeluk in die Slagpale van Guppy beland, en natuurlik het sy hom gou-gou uitgesnuffel en uit die lewe uitgehelp. Teen die tyd wat sy trots haar nuutste vangs kom wys het, het die onskuldige dier reeds die tydelike met die ewige verwissel. Daar was slegs ‘n klein smeerseltjie bloed aan die pienk neusie en geen ander sigbare wonde nie. Die kyk van verontwaardiging toe ek haar vangs sonder seremonie wegneem, spreek boekdele. Wat sy met hierdie konyn wou maak, sal g’n mens weet nie, want sy vreet nie die goed wat sy vang nie.

Muise staan geen kans nie en selfs vriende loop onder haar intense ondersoek deur. As sy iemand nie goedkeur nie, maak sy baie seker dat ek die boodskap verstaan. Haar standaarde is hemelhoog en sy plaas nie sommer die stempel van goedkeuring op enigeen nie. Wat iemand moet doen (of wees) om deur haar goedgekeur te word, is ietwat onduidelik, behalwe dat die persoon opreg moet wees en dat sy woord en daad ooreen moet stem. Sy het nooit ‘n fout begaan nie en ek het ‘n hoë agting vir haar opinie. Waarvan is ʼn dier so intens bewus wat ʼn mens so maklik miskyk?

Nie vreeslik baie jare na die haas-vangery nie, breek ʼn groot bohaai in die hoek van die erf uit. Uit die verwoede gegrom en -byklanke, lei ek vinnig af dat hierdie besig is om in ʼn anderste dag te verander. Dit is net takke wat kraak en ‘n geskraap van harde naels op ʼn omgekeerde sinkplaat. Haar andersins blink-swart pels is vol stof en haar gesig is die ene bebloed. Ek was haar gesig versigtig af en soek na die gapende wonde, maar besef gou dat sy nie eens ‘n skrapie het nie. Die opponent was ongelukkig nie so gelukkig nie. Of die bure se kat ooit van daardie onderonsie herstel het, is onduidelik. Tog sou geen kat dit ooit weer  waag om helder oordag deur ons tuin te stap nie. Slegte nuus versprei vinnig, selfs onder die diereryk.

Maar sy het wel geweet waar om die streep te trek. Guppy sou nooit skoor soek met diere wat groter is as sy nie. Enigiets anders was ‘n goeie opponent in die land van liefde en oorlog, en al het ek nooit ‘ʼn bakleiery aangemoedig nie, het ek ook geweet dat mens nie met ʼn dier kan redeneer nie. Die natuur wil sy gang gaan, ongeag of dit reg of verkeerd is in die mens se oë.

Dit gebeur dan ook dikwels dat ons een of ander ongewone dier hier reg in die middel van die stad ontmoet. By die Hasiepark is ons soms gelukkig genoeg om ʼn koei of twee langs die draad te kry, maar hulle is redelik skugter en sal mens gewoonlik net op ‘n afstand staan en beskou. Die kalfies is egter nog nuuskierig en onder Mamma se toesig kom enetjie graag nader wanneer hy genooi word. Met sy sagte bruin oë kyk hy nuuskierig na Guppy wat in gespanne stilte wag. Ek hou my asem op terwyl hierdie twee mekaar deur die ogiesdraad beruik, die oomblik hopeloos te groot vir woorde. So half en half verwag ek dat Guppy enige oomblik kwaai vorentoe gaan spring en die kalf sal verskrik, maar sy maak net klein geluidjies om haar groot opgewondenheid uit te druk. Die donkie is natuurlik net so laf en nuuskierig as wat ʼn donkie kan wees, maar dink nie dis nodig om van naderby kennis te maak nie.

Ons is seker bevoorreg om binne loopafstand van kleinhoewes te woon, en hier is dan natuurlik heelwat skape, donkies en perde, en nou en dan ‘n varkie of twee. Hoenders is natuurlik altyd volop – tot ons spyt wanneer die haan drie uur in die oggend al begin keel skoonmaak. Ongelukkig is enige geluid om 3 voormiddag selde mooi. 

Ek bekyk  nog die pragtige blomme wat oor die heining drup, toe Guppy en ‘n lieflike swart hings mekaar gewaar. Dit is ook nie honderde minute nie, toe kom hy vinnig aangestap vir ‘n nadere kennismaking. Nee, nie met mý nie, uh-uh, op daardie oomblik is Guppy die enigste een wat hy raaksien! Ek hou my asem op. Gaan een van hulle skrik en vervaard onder ‘n stofwolk wegspring? Toe nie, en weereens dam daar trane in my oë op oor die grootsheid van die oomblik. Guppy, met haar swart blink pels, ontmoet haar reusagtige groot prins met sy swart, blink pels. Met groot respek lig sy versigtig haar neus op om ‘n soentjie of twee te deel. Seker gedink die Miesies sien dit nie, nê??

Noodgedwonge moes sy maar saam trek toe ons van provinsie verwissel en dit is haar eerste kennismaking met die see. Vir ‘n dier wat net plat aarde ken, en so nou en dan in die dorp se plaaslike meer swem om visse en eende te jaag, was hierdie nogal ‘n groot ervaring. Die water wat die hele tyd heen-en-weer beweeg maak haar kop sou deurmekaar, en wanneer die brander terugtrek, gee haar bene sommer onder haar in en slaat sy soos ʼn sak sement in die nat grond neer. Die onsmaaklikheid van die soutwater help natuurlik geensins om haar te oortuig dat hierdie dalk ʼn lekker plek mag wees nie. Maar dit is ook net tot wanneer die duisende skulpdiertjies begin uitspoel. Wel, om een of ander rede het sy ‘n smaak ontwikkel vir rou slakkies, al kriewel hulle benoud. Jig, jy hoor net doppe kraak soos sy kou!

Maar soos sy ouer raak, het sy nie meer baie lus om die erf skoon te hou van alles wat lewe nie. Selfs die bure se pragtige swart kat maak homself tuis in die heerlike koelte van die Bottelbrush, sy een oog half-oop net vir ingeval die groot gevaar op haar sal afstorm. Selfs die voëls kry die boodskap dat dit nou weer veiliger is om wurmpies te kom soek, en stap ewe kordaat rondom die slapende skoonheid.

Die diereryk is werklik verstommend, want hoe weet almal dat hierdie erf nou weer ʼn veilige plek vir almal geword het? Hulle praat verseker ʼn taal wat ons nog nie onder die knie gekry het nie. Eendag gaan ek dit ook verstaan, ek moet net aanhou leer en aandag gee. Dit kan mos nie so moeilik wees nie, of hoe?




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed