’n Nuwe môre
O land van ons, ek wil vir jou
weer vergesigte tafereel;
in eendagvisioene
my graag dié beelde wil verbeel:
Ek sien jou mense leef in vrede
in respek teenoor mekaar;
die stryd, die haat, die vooroordeel
is ten laas tot niet verklaar.
Alle volke wis hul kan tog
tesaam in simbiose leef;
al verskil hul doen en late –
dié ongerief mekaar vergeef.
Die woorde wat gestenig het
– daaroor is eindelik berou;
klip word bymekaar gemaak
om brûe daarmee te bou
en stede, onbesoedeld
waar bont malvas heeljaar blom
op vensterbanke van kantore,
op elke woonstelblok-balkon.
Ieder wat die grond liefhet,
wat die aarde wil bewerk,
dié wat biosfere wil bewaar
– hulle hande word versterk.
Jou kinders is nie bang nie
hul speel nou, vry van seer
in townships, veld en strate
– ’n Godswonder het gebeur.
Bees en skaap het nooit meer dors nie
daar’s altyd bos en gras te wei;
elke bitter, bitter droogte
is tot in ewigheid verby.
*
O land van ons, my geestesoog
sien pluime oor jou vlaktes wals.
En in my droom se hemelhoog
sweef ’n arend oor hierals.
© Carma Shaw
14 Mei 2019
10:43
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Margaret Cordier
Nog 'n puik gedig van hierdie kunsmaker.