Namakwaland
‘n Strook aarde sanderig, ruim en oop.
met besonderse mense wat oor hierdie stukkie aarde loop.
Die reuk van sout of dassie-pis teen die klip se rand
verberg geheimenisse van Namakwaland.
Dikwels vaal en droog hou elke dorp sy kop omhoog.
Sy warm asem wat ruik na vars woestyn
eiesoortig uniek, dis God se lente tuin.
Rede het ons om fees te vier
al is die blommeprag van korte duur.
Omsoom met die bloue oseaan
kan ons net in verwondering staan.
Somer se warm, dirigeer die sonbesie skree en
sout van die aarde wat mense smee.
Uit barste waar bokhoring of Maartblom stoot
lê beloftes van lewe na die dood.
Ons reënbede aan die Skepper,
eggo in ‘n ster belaaide nag
Bedags hou boere oor wit wolkies wag.
Van Langebaan tot diep in Namakwaland,
is die land geseën uit God se hand.
Wanneer die besoeker sy vaarwel toe wuif
kom woel die Weskus hom vas in sy lyf.
4 Kommentare
-
Anze
Dis die mooiste woordeskildery! Pragtig gepen
-
Koekekranka
Puik werkie!
-
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Arnold
Daar staan 'n mens klein en verstom oor die grootsheid van Sy Almag.