Nog ‘n dag…..
Daar is geen ander uitweg nie. Ons moét dit doen. Vandag moet ons deur Seuna se privaat dokumente gaan krap om te sien of daar iewers ’n testament is. En enige dokumentasie van moontlike polisse of lenings en rekeninge.
Toe-boek privaat mens wat hy was, moet ons vandag sy boek gaan oopslaan. Sy sake gaan bloot lê. Hy het nie veel besittings nie, maar die testament sal bepaal hoe, wat, waar en na wie die goedjies moet gaan. Dis mos maar soos die dinge werk.
Sy woonstelmaat is nie tuis nie, maar het die sleutel by ’n gemeenskaplike vriendin gelaat. Sy sal ons voor die woonstelblok ontmoet. Ek het haar al tevore gesien, maar toe was hulle nog skoolkinders en later studente. Ek wonder of ek haar sal onthou. Of sy vir my.
Daar bestaan egter geen twyfel toe die langbeen blonde meisie, ’n bos blomme met die voorarm teen haar ribbes vasgedruk, blik op haar voete, oor die pad gestap kom nie. Meisie? Nee, sy is nou al ’n volwasse vrou. Min of meer dieselfde ouderdom as Seuna. Twee-en-dertig. Vrou…man, maar tog nog bloedjong kind. Net soos my kind. Hy sal nie oud word nie. Is dit ’n onreg of ’n voorreg?
Haar oë is rooi, maar sy huil nie. Ons druk mekaar styf vas. So asof ek my kind in haar omhelsing kan voel. Ek wil aanhou vashou. Toe tree sy terug en sê: ‘Tannie, ek is so die hel in vir hom. Hy is wragtig al weer weg sonder om te groet! Hierdie keer vir ewig.’ En al wat ek kan antwoord is: ‘Ai sorry man. Ek het hom nie so geleer nie.’ Regtig, ek het nie!
Sy gee die sleutels vir Bokka en bied aan om saam te stap want die een hek het ’n spesiale triek om dit oop te kry. Sy wys ons. Daarna sê sy: ‘Ek los julle nou alleen om te doen wat julle moet doen. Bel my as julle klaar is, dan kom haal ek gou die sleutel.’ Ter nagedagte: ‘Sterkte!’
Ons klim die trappe. My voete raak al swaarder en my knieë wil-wil knak. Voor die deur staan Bokka vir ’n oomblik stil met ’n geboë hoof. En toe sluit hy kwaad hardhandig oop en stap in, maar hy stap die gang af verby Seuna se kamer.
Met die eerste tree oor die drumpel sing die sonbesies in my ore, my hart ruk-en-pluk en ek draai met mening eers weer om. Ek kan my kind ruik! Ek snak na asem. Bokka vra: ‘Wat nou?’ en ek verstik aan die gevoel wat met ystervuiste teen my binneste hamer. ‘Ek kan nie….nog nie. Wag net.’
In die gang buite die woonstel moet ek hardop met myself praat: ‘Kom nou. Trap vas. Daar is nie wegholkans nie. Draai om en gaan in. Kry dit agter die rug.’ Soos ’n geprogrammeerde masjien sonder gevoelens, draai ek op my hake om en stap weer in. Die reuk is nog daar.
In die kamer kyk ek rond. Al die bokse bo-op die hangkas. Sy visstok in die hoek. Twee kratte op die vloer. Gefrommelde papiere in die snippermandjie. ’n paar stukke vuil klere in die wasgoedmandjie. Hy kan netsowel nou-nou hier instap om aan te gaan met die lewe. Maar hy sal nie. Nooit weer nie.
Die boekrak is vol ingenieurs-handboeke, sommige te groot om regop te staan. Bo-op die boekrak is ’n stapel gedrukte bladsye. Ek blaai blindweg daardeur. Een na die ander opskrif skree dit uit. Seuna het hulp gesoek. Geskree. Gepleit.
Dis artikel na artikel, uit webwerf op webwerf. Elkeen hou verband met depressie of angs, of pikdonker gemoedstoestande. Hy was soekende na raad oor hoe om hierdie dinge te beheer en verdruk. Desperaat! In my hart praat ek stemloos: ‘My God, my God, hoe het hierdie dierbare kind dan nie gewroeg en geworstel nie?! Hoekom het U hom nie gesond gemaak nie?’
Ek kan nie meer regop staan nie. My bene gee mee. Ek gaan sit op sy bed, toe die damwal bars. Ek voel sy seer. Sy vrese en bekommernisse. Die donker ure, die wanhoop sonder uitkoms. Ek huil oor my magteloosheid om hom te kon help. Weer besef ek waarvan is hy nou ontslae. Waarvan het hy homself verwyder. Die tweesnydende lemme van depressie wat ’n jong lewe opgekerf het, die lewe se intense druk en ’n oordrewe sin van verantwoordelikheid.
Een vir een blaai ek deur die lêers in die rakke. Hy het niks weggegooi nie. Sistematies is elke faktuur, kwitansie, kwotasie en dokument van die afgelope tien, twaalf jaar, geliasseer. Studiegelde. Verblyf kwitansies. Voertuig dokumente en lisensies. Voorskrifte. Poliskontrakte. Mediese fonds fakture. Talle kwotasies vir moontlike beleggings. So eie aan sy oorversigtigheid.
Alles is in die lêers, maar daar is nêrens ’n testament nie. Ons kry darem die kontakbesonderhede van sy finansiële adviseur. Ook ’n dokument vir die benoeming van begunstigdes. Alles is ingevul tot voor die benoemde, maar daar is geen naam ingevul nie. Hy was nog besig om te dink en het nog nie ’n finale besluit geneem nie. Hy het nooit enige ’n besluit vinnig gemaak nie. Om die waarheid te praat, was hy redelik besluiteloos. Onseker.
Seuna het nog tyd nodig gehad. Tyd om te dink. Tyd om te leef. Ek het nog tyd nodig gehad!
3 Kommentare
-
Viooltjie
Ai Kiekies. Dit is darem die seerste seer. Ek is so jammer dat hiedie ding met julle gebeur het. Ek het nie raad nie . . .
-
Ano
Soos gekneusde blomme druk ek jou net vas, huil saam met jou.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Lynette dit is n groot hartseer wat jy met ons deel. Ons kan ons nooit hierdie hartseer indink nie. My vrou se dogter is n paar jaar terug in Mosambiek ook sommer skielik oorlede, eensaam en alleen. Sy rou nou nog oor haar dogter en dit gaan jou baie lank neem om hieroor te kom