Nog nuttelose informasie (maar ek wou jou net laat weet het . . . ) 3
Dis nege in die oggend –
dit ruik na reën hier in die Kaap.
By ENGEN vlieg ‘n hadeda
oor die vulstasie se dak
en in die Quick Shop
staan Huisgenoot en Son
langs Engelse koerante op die rak.
Die Burger is vanmôre
vroeg reeds uitverkoop.
Ek drink koffie by die tafel
(langs ‘n venster) in die hoek
en skryf vir jou op my tablet . . .
Die geur van Cappuccino
meng met dié van ‘n pastei
en drie mossies trippelloop daarbuite
oor rooi plaveiselstene.
NASIONALE LOTERY
wapper phanda pusha play
op geel baniere in die wind.
Die petroljoggie is vol grappies
wyl hy skuim van motorruite skraap.
Dis tienuur op ‘n herfsdag.
En dit ruik na reën . . .
hier in die Kaap.
© Carma Shaw
31 Maart 2017
4 Kommentare
-
-
Amaspoke
Mooi geskrywe, laat 'n mens so bietjie stil sit . . .
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
soos altyd leef mens jou in in jou skrywe Carma. pragtig geskryf