O, vet! Eva aan die woord. (Brons)
Woordtelling: 348
“Mapstieks, Maans! Skuif, ek kan nie deur jou skaduwee sien nie, netnou knip ek verkeerd!” Jan-Louis klik met sy tong en staan van die vloer af op. By die klein tafeltjie tel hy die kersblaker op en gaan sit dit neer by die laken.
“Ma gaan ons velle vuurwarm klop omdat jy alweer jou ore uitgeleen het vir Kobus en Gert.” Hermaans loer senuweeagtig na die deur. Het hy hom verbeel? “Jy leer ook nie, nog elke slag het hulle jou… ons… in die moeilikheid gebring.”
Jan-Louis trek die wit laken mooi reg voor die ritmiese girts-girts van die skêr weer opklink. ‘n Klein ronde gaatjie word vir die neus gesny.
‘n Harde slag by die venster laat albei vervaard opspring. Jan-Louis storm na die venster. Hy kan net-net ‘n klein lyfie uitmaak wat die donker in verdwyn. “Dis Katryn…” Sy woorde stol in sy keel. “Maans! Wat het jy gedoen?” Die omgevalde kers se vlam lek-lek aan die laken.
‘n Snik ontsnap uit Hermaans se keel.
“Moenie net daar staan en tjank nie, kom help my gou dat ons hierdie vuur kan blus!” Sy oë gaan soekend oor die vertrek, steek vas by die emaljeemmer. “Maans, maak gou die deur oop!” Hy gryp die emmer, storm uit buite toe, skep grond en storm weer na binne om die vuur te blus. “Kom, ons sal die laken moet gaan wegsteek anders gaan ons vir Eva proe.”
* * *
Katryn loer om die hoek van die kamerdeur. Twee spore lê duidelik op haar gesiggie. “Ma soek julle twee se lywe in die kombuis… en soos in gister!” Sy verdwyn weer vinnig.
Hermaans en Jan-Louis loer na mekaar. Jan-Louis skud sy kop. Kobus en Gert sou hulle mos nie verkla het nie? “Kom laat ons gaan hoor wat soek Ma.” ‘n Ent voor die kombuisdeur klink ‘n harde geswiep-swiep op. Jan-Louis steek vas. Hermaans loop kaboems teen hom vas. “O, vet! Eva aan die woord…” fluister hy terwyl hy in die rigting van die kombuisdeur beduie.
Hermaans se onderlippie begin bewe. “Ek… ek… sal gou die boeke gaan haal … vir siepsop-en-braaiboud!”
© Taai Bonthuys
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2023 – OOP projek