(on)Heilige grond
(on)Heilige grond
“Unhappy is he to whom the memories of childhood bring only fear and sadness.” – H. P. Lovecraft
Gebede kenter in kerkbanke:
windgordel jou stém
wat Sipresse ontwortel.
Ek stik in die stank van wierook
maar bid tóg saam,
swartpeper op die stoof
– om demone weg te hou, sien –
Jou psigose is ‘n honger dier
– sluk my onskuld heel in –
jy lê hande op die vrou
en bid en bid,
in Jesus naam.
Later, met haar siel skoongevee,
luister ek na die roepstem van die nag
en ek droom – áls is weer mooi.
*I know you’re out there somewhere
Somewhere, and somehow I’ll return again to you.
Heelwat later kyk ek
hoe jou graf in die aarde wegsak en
ek wil luister
– jou beeld het dof geraak –
ek wil huil –
het vergeet hoe.
© Ernst Fernando dos Santos (2017)
*The Moody Blues – “I Know You’re Out There Somewhere.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.