Oor Northpine vlieg ’n kolgans
(goud)
Aan die einde van die winter
as donker wolke vir ’n wyle wyk
en lentebeloftes in die lug rondwaai,
kom staan ek hier op varinghoogtes
vanwaar ek oor my wêreld heen kan kyk.
Elke jaar, aan die einde van die winter
(tussen gras en bos wat drup van dou)
wonder ek hoe son so rooi kan bloei
agter bolande wat in die vertes blou.
En nou, aan die einde van dié winter
sien ek Franschoek neffens berge wieg;
kranse wat teen die horisonne klim.
Ek laat my blik oor dale gly –
gewaar ’n kolgans wat oor Northpine vlieg.
En soos sy, vlug hierdie oomblik … net verby.
© Carma Shaw
31 Oktober 2018
09:29
(rondeau)
5 Kommentare
-

Palet
Mooi
-

Callie Vermeulen
Pragtig geskets!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2018 projek